Die elemente van gebed
1.
Aanbidding en lof
Gebed is nie soos 'n inkopielys waarin dit net gaan om dit wat jy nodig het nie. Gebed is in die eerste plek 'n medium waardeur God aanbid en geëer word. Die rede vir die mens se bestaan is om in die eerste plek God te aanbid. Daarom mag die lof en aanbidding nooit in jou gebede ontbreek nie. God word aanbid deur Hom in jou gebed te loof en te eer vir wie Hy is. Sy Naam, sy eer en heerlikheid, sy werke word besing. Sy grootheid en almag, sy heiligheid word erken. Hierteenoor word jou eie kleinheid en afhanklikheid van Hom bely. Jesus het ons die modelgebed gegee, nl. Die Onse Vader. 2.
Danksegging Gebed verskaf 'n manier om vir God dankie te sê vir sy genadige versorging. In Filippense 4:6 word God se kinders aangemoedig: "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend." 3.
Belydenis van sonde Jesus leer in die "Ons Vader"-gebed dat ons ons skuld voor God mag bely (Mattheus 6:12). Wie dit doen erken teenoor God dat hy verkeerd gehandel het deur iets te doen of na te laat wat teen God se wil is. Hy bely dat hy berou het daaroor en dat hy bereid is om sy sonde te laat staan. Hy vra God om Hom te vergewe. Die Bybel leer ons in 1 Johannes 1:9 dat God ons vergewe en van alle ongeregtigheid reinig as ons ons sondes so voor Hom bely. 4.
Voorbidding God sorg vir sy kinders (Filippense 4:19). Daarom mag hulle hulle behoeftes aan Hom bekend maak in die verwagting dat Hy daarin sal voorsien. Daarom leer Jesus ons in die "Ons Vader"-gebed om te bid vir dit wat ons daagliks nodig het (Mattheus 6:11). Christene mag ook bid vir hulle bewaring teen die Bose (Mattheus 6:13).
In ons voorbidding gaan dit egter nie net oor ons eie behoeftes nie, maar ook om dié van ander mense. "Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense" (1 Timoteüs 2:1). Dit sluit onder andere ook die owerheid in (1 Timoteüs 2:3-4). In voorbidding gaan dit ook om God se werk in die wêreld (Mattheus 6:9,10) en in besonder om die verkondiging van die evangelie (Efésiërs 6:19,20). Hoe moet jy bid? 1. Bid tot God die Vader (Mattheus 6:9). 2. Bid in die naam van Jesus Christus (Johannes 14:13-14; 15:16). 3. Bid deur die krag van die Heilige Gees (Efésiërs 6:18; Judas 1:20). 4. Bid gelowig (Hebreërs 11:16). 5. Bid volgens God se wil (1 Johannes 5:14-15). 6. Bid opreg (Mattheus 6:5-8) Hoe gereeld moet jy bid? Daar moet 'n plan en orde in jou gebedslewe wees. Ruim daarom iewers in die dag vir jou 'n vaste tyd in om met die Here te verkeer. Neem egter ook die vrymoedigheid om enige tyd deur die dag te bid. "Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges" (Efésiërs 6:18)
Voorbeelde uit die Bybel: · Jesus het vroeg in die oggend gebid (Markus 1:35); · Daniël het drie maal per dag gebid (Daniël 6:11); · Paulus sê dat hulle dag en nag gebid het (1 Tessalonisense 3:10); · Dawid het tot sewe maal per dag gebid (Psalm 119:164)(Ou Afrikaanse Vertaling). Hindernisse in die gebedslewe 'n Mens beleef dikwels dat jou gebede nie beantwoord word nie of dat die ervaring van gemeenskap met God ontbreek of dat die vrymoedigheid om te bid kwyn. Daarom is dit belangrik om te weet dat daar dikwels struikelblokke is wat jou gebedslewe in die wiele kan ry. Jakobus 4:3 sê: "As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid." Voorbeelde uit die Bybel waarom God nie gebed verhoor nie: · Selfsugtige begeertes (Jakobus 4:3); · Ongeloof en twyfel (Jakobus 1:6-8); · Die weiering om ander te vergewe (Mattheus 6:14-15); · Sonde (Jesaja 59:1,2); · Ongehoorsaamheid aan die wet van God (Spreuke 28:9). Wie erns maak met sy gebedslewe sal ervaar dat God sy gebede verhoor, dat hy groei in sy verhouding met die Here en dat hy die vrymoedigheid en krag ontvang om te volhard in sy verhouding met die Here asook in sy dienswerk in sy kerk en in die samelewing. Maak daarom erns met jou gebedslewe.
|