Die Kersboom

Na aanleiding van die artikel “The Plain Truth about Christmas”, plaas ek die volgende artikel. Die vraag het ontstaan of Christene dan wel Kersfees mag vier. Hoe moet ons dan Kersfees vier of die geboorte van Jesus herdenk? Wat van die kersboom?

Die pragtige en aanloklike kersboom, wat nou so welbekend is in ons moderne tyd en eeu, was ook welbekend in heidense Rome en heidense Egipte. In Egipte was dit ‘n palmboom en in Rome was dit die denneboom. Die palmboom was heenwysend op die valse heidense messias wat as Baal-Tamar bekend gestaan het en die denneboom het na hierdie “messias” verwys as Baal-Berrith. Daar word vertel dat die moeder van die songod, en groot goddelike, self op mistieke wyse in ‘n boom verander het en dat sy in hierdie gedaante geboorte gegee het aan haar goddelike seun. As die moeder ‘n boom was, moet die seun dan sekerlik erken word as "Man the branch" (kyk Yule Log hier onder).

Dit was weereens een van Satan en sy volgelinge se pogings om die teken van Jesus wat Spruit (‘n tak) genoem sou word te verdraai, af te breek en te humaniseer. (Jer 23:5 - "Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land." lees ook Jer 33:15, Jes 5:1 en Sag 3:8). Die heidene het ‘n boom afgekap, in hulle huis ingebring en versier om sodoende hulle afgod te vereer en te dien.

Die Yule Log

Dit was ook nog altyd 'n heidense gewoonte om 'n kersfeestak (Yule log) op die vuur te plaas op Kersaand. Die tak verteenwoordig die seun wat die vuur moes binnegaan op "Mother night" sodat hy weer gebore kon word die volgende dag as die "spruit" (tak) van god (die kersboom).

Die "Mistletoe"

Die “mistletoe” was gesien as ‘n goddelike tak (deel van die boom - soos die maypole). Dit het die teken geword van goddelike versoening van die mens. Die soen onder die mistletoe was die teken van vergewing en versoening. Hierdie gewoonte is later misbruik as die ideale geleentheid vir ‘n man om ‘n soen van ‘n meisie te kry of andersom.

Die Bybel swyg oor die viering van Kersfees, ook oor die viering daarvan deur Jesus se dissipels of die eerste Christengemeentes. Die kersboom was dus nog altyd 'n heidense gebruik of simbool en het nog nooit enige verband met Jesus Christus gehad nie. Dit was nog altyd bedoel om 'n afgodsboom te wees. God spreek Hom wel uit oor die kersboom. In Jeremia 10:2 waarsku God ons om nie gewoond te raak aan die weg van die heidene nie. (Jer. 10:3-5 - "Want die insettinge van die volke is nietigheid; want 'n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van 'n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie. Soos 'n voëlverskrikker in 'n komkommertuin is hulle: hulle [die afgodsbome] kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie.") Sien ook Jer. 10:14-16. Hierdie is ‘n baie goeie beskrywing van die kersboom soos ons dit vandag ken.

Hoe vier jy Kersfees? Kan dit wees dat jy bloot maar besig is om jou heidense bure of vriende en hulle heidense kultuur na te volg? Kan dit wees dat jy die dag vier soos al die ander wêreldlinge en dit maar net ’n wêreldse dag noem as ’n gerieflike verskoning? As dit werklik net vir jou gaan daaroor om ’n lekker familiedag te geniet, waarom maak jy jou sitkamer vol monumentjies en herdenkings aan die afgodediens van toeka tot nou? Jy sê die dag is ’n wêreldse vakansiedag, maar jy het ’n kersboom, kransies, allerhande kersversierings, blink toegedraaide geskenkies, dalk selfs brandende kerse. Dit is dan tog duidelik dat jou viering van Kersfees baie lyk na dié van ’n pousgesinde en wêreldling. Die waarheid is dat, indien jy al die heidense fieterjasies uit die Kersfees uithaal, jy waarskynlik nie eers die moeite sal doen om die dag te vier nie. Die heidense dag sal sy blink, sy bekoring en sy emosionele warmte verloor. As Christene moet ons wel gesinsgefokus wees en bly. Ons moet met ons familie bymekaar kom en mekaar se geselskap geniet. Maar ons het nie ’n heidense feesdag, afgode en heidense rituele nodig om dit te doen nie.

Mag ons dan as Christene wat die waarheid ken, deelneem aan hierdie heidense gebruike? Mag ons hierdie afgod in ons huise inbring? Jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie (Deut 7:26; Jer 4:10; Eseg 11:21). Ons weet hoe skerp God afgodediens in Sy gebod verbied. Ons weet ook hoe God vertoorn raak as Sy kinders deelneem aan, en Hom terg deur heidense gebruike (Deut 32:16, 21; 1 Kon 14:15; Ps 78:58; Jer 8:19). Hoe kan jy dan as Christen, wat vrygekoop is deur die kosbare bloed van ons Here Jesus Christus, bly volhard in so 'n heidense gebruik? Wie wil jy vereer of dien met 'n nietige afgodsboom of verwerplike heidense gebruike? Ons mag God op geen ander manier dien en eer as wat Hy in sy Woord beveel nie. Ons mag nie as vrygekoopte kinders van God meedoen aan die bespotting van ons Verlosser en Saligmaker se geboorte nie. Ons kan nie God en die wêreld dien nie. Die wêreld het alreeds Jesus se geboorte gekommersialiseer en misbruik dit nog jaarliks. Aangesien ons as Christene duur gekoop en verlos is, mag ons nie die geboorte van Jesus so goedkoop maak nie! Wanneer gaan alle Christene eendag ‘n ware Christusfees begin vier? Wanneer gaan ons Jesus begin dien, eer en volg soos God dit voorskryf?

Mag al die Christene hierdie jaar ‘n ware en geseënde Christusfees ervaar en Jesus dien soos God dit in sy Woord beveel. Laat al die eer God toekom en nie ‘n boom of ander skepsel nie.