God se Woord is ‘n Lig vir my pad


Dit is nodig dat alle Christene se geloof stewig in hierdie waarhede veranker sal wees, sodat ons oortuigde volgelinge van die Here Jesus kan wees wat ons opdrag as getuies vir Hom doeltreffend sal uitvoer. Die enigste bron wat in hierdie studie gebruik word, is die Bybel, want jy moet “die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim. 3:15). Die Here self wil jou deur sy Woord onderrig, want “die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17). Die Skrif is deur die Heilige Gees geinspireer en gedrywe (Ex 17:14; 2 Sam 23:2; Jes 8:1; Jes 30:8; Dan 12:4; Hab 2:2; Mark 12:10; Luk 4:16-21; Hand 1:16; 1 Pet 1:11,12; 2 Pet 1:16-21; 2 Tim 3:16; Heb 1:1; 3:7; 2 Pet 3:15-18; Rom 12:7 NGB artt. 2, 4, 5).

Bybelstudie moet in ‘n ernstige en biddende stemming gedoen word, gedagtig aan die feit dat die Heilige Gees jou in jou hart van hierdie groot waarhede wil oortuig. Hy is die Gees van die waarheid wat jou op só ‘n wyse in die waarheid wil lei dat die Here Jesus verheerlik en sy beloftes en verlossingswerk volkome verstaan sal word (Joh. 14:26; 15:26; 16:13-14). Jou studie moet dus nie net ‘n verstandelike oefening wees nie, maar ook ‘n geestelike verryking deurdat jy die genade van die Here op ‘n toenemende wyse ervaar. Kennis en genade moet hand aan hand gaan, want “julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).

In hierdie artikel word feitlik deurgaans net Skrifverwysings genoem, met die bedoeling dat elke persoon dit self sal naslaan en in die verband sal lees waarin dit geskryf is. Dit is belangrik dat die tekste gelees sal word, want op dié manier sal jy meer vertroud met die Bybel raak en vir meer studie gemotiveer word. In die proses kan elke leerstelling verder uitgebrei word.

Ek wil jou baie sterk aanraai om net die 1933 vertaling van die Bybel te gebruik, soos in 1953 hersien. Die Bybelgenootskap gee dit steeds uit omdat daar so ‘n groot aanvraag vir hierdie vertaling is. Op my webblad www.suiwerleer.com is daar ‘n artikel waarin die foute en tekortkomings van die nuwe (1983) vertaling van die Bybel bespreek word. Dit sal gevind word by Artikels onder die opskrif “Aanslag op die Woord van God”.

Daar is so baie beloftes, opdragte, waarskuwings en vermanings in die Bybel waarvan ons kennis moet neem, dat ‘n intensiewe leerproses van God se Woord noodsaaklik is. Dit moet egter nie by kopkennis alleen bly nie omdat dit, op sy eie, jou nie geestelik kan verryk en opbou nie. Nadat jy ‘n teks gelees en gememoriseer het, moet jy dit bepeins en ter harte neem – m.a.w. dit moet in die geloof aanvaar word. Dan alleen sal jy kan sê: “Ek het u Woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Lofwaardig is U, o Here! Leer my u insettinge” (Ps. 119:11-12).

Dit is baie belangrik dat jy Bybelstudie met ‘n oop en ontvanklike gemoed sal benader. Ons het almal nog baie om uit die Here se Woord te leer, maar dan moet ons ‘n leerbare gees hê. As jy aan vooropgestelde idees en kerklike dogmas vashou, dan is jy alreeds bevooroordeeld nog voordat jy met die studie begin het. Sulke mense soek net in die Bybel na bevestiging vir hulle eie idees en ignoreer, vergeestelik of herinterpreteer alles wat daarmee in botsing is. In sulke gevalle word die Bybel misbruik om geloofwaardigheid aan die teologiese tradisies en gebooie van mense te gee (Matt. 15:8-9). Dit sal jou nie nader aan die waarheid bring nie, maar eerder verder daarvandaan af laat wegdryf.

Elke gelowige moet daarna streef om geestelik sterk te wees en op te groei na die volwasse man of vrou in Christus, “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Satan wil ons van die Bybel en die regte verstaan daarvan weghou, sodat ons onder die geklank van verkeerde leringe kan kom en vervreemd raak van die opregtheid teenoor Christus (2 Kor. 11:3-4). Hierteen moet ons beslis en ernstig waak!

Dit moet ons groot doel wees om eendag voor die Here Jesus te staan en die volgende gunstige beoordeling uit sy mond te hoor: “Jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8b). Om die Here se Woord te bewaar, beteken om dit te ken en te eerbiedig. Om sy Naam nie te verloën nie, beteken dat ons die volle omvang van sy godheid, versoeningswerk en reddende genade moet glo en bely. Mag die Here elke gelowige student van sy Woord hiertoe help.

 

Die Woord van God

Die woord “Bybel” is van die Griekse woord Biblia afgelei, wat Boeke beteken. Die Bybel bestaan uit ‘n Ou Testament met 39 boeke en ‘n Nuwe Testament met 27 boeke – saam 66 boeke. Hierdie boeke is in verskillende tye en op baie verskillende plekke geskryf, maar deur die beskikking van God se Gees is hulle bymekaar gebring en vorm ‘n eenheid. In die Bybel self word na hierdie boeke as die “heilige Skrifte” verwys (2 Tim. 3:15). Dit is God se Woord, omdat al die skrywers dit onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het (2 Pet. 1:21).

Ons leef in ‘n tyd van groot verval. Alle evangeliese Christene moet hulleself opnuut tot die handhawing en eerbiediging van die Bybel as God se Woord verbind. Die Woord van die Here is ‘n kosbare skat wat aan ons gegee is. Dit is dinamies en lewend, en vervul ‘n verskeidenheid geestelike behoeftes in ons lewe. Die Woord het, volgens sy eie uitsprake, die volgende duidelike kenmerke en unieke eienskappe:

Dit is ‘n openbaring van God en sy werke
Die Bybel is nie mense se woorde nie, maar God se Woord. Hierin word die Drie-enige God geopenbaar, die oorsprong van die mens en die natuurlike skepping, die ellende en geestelike doodsheid van die mens as gevolg van die sondeval, die teenwoordigheid en planne van ‘n vyandige koninkryk onder die leiding van Satan, God se reddende genade vir God se kinders deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding, God se oordele oor die sondaars wat sy uitnodiging tot redding verwerp, die wederkoms van Christus en die openbaring van sy koninkryk, asook God se toekomstige raadsplan met sy kinders in die nuwe hemel en op die nuwe aarde. ‘n Groot deel van die Bybel is op die geestelike groei en toerusting van diegene toegespits wat hulle tot God bekeer het en wat Hom te midde van al die goddelose mense en valse leerstellings wil dien (2 Tim. 3:16-17). Die Bybel is nie menslike versinsels oor God nie, maar ‘n boek wat deur God self “ingegee” is (2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:21).. Die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel soos dit in die oorspronklike tale geskryf is, kan nie weerspreek word nie en word onder meer deur die merkwaardige vervulling van Bybelse profesieë bevestig. Die openbaring van Jesus as God die Seun staan ook vas, en is ver bo alle teologiese redenasies en opinies verhewe.

Dit is aan ‘n Persoon gekoppel
Alle beloftes van God in die Bybel moet herlei word na ‘n Persoon, die Here Jesus Christus. Hy is die vleesgeworde Woord (Joh. 1:1,4,14). Die gesproke en geskrewe Woord van God getuig van die Verlosser, Jesus Christus, daarom staan dit in so ‘n noue verband met Hom. In Hom is elke belofte in die Bybel ja en amen omdat Hy deur sy kruisdood die prys vir die vervulling daarvan betaal het (2 Kor. 1:20; Ef. 1:7). Jesus Christus het net vir God se volk, sy kinders, kom sterf en net vir hulle sondes betaal (Mat 1:21; 2:6; 10:5-7; 15:24; 20:28; 26:28; Mar 10:45; 14:24; Luk 1:76-77; 2:10; Joh 11:51-52; Jes 49:6-7; Hand 13:23; 15:16, 17; Rom 5:15; Jes.53:11; Heb 2:17; 9:28; 1 Pet 2:9; Amos 9:8-15). Weens die noue assosiasie tussen Christus en die Woord kan ons Hom nie volkome liefhê as ons die bestudering van sy Woord afskeep nie (Joh. 14:23).

Dit het skeppingskrag
Die Woord van God het skeppingskrag (2 Pet. 3:5). Met die skepping het God net gespreek en die skepping het plaasgevind. Dit herskep ook verlore mense (Rom. 1:16). Alle ware gelowiges weet van die krag wat daar in die Woord is. ‘n Gelowige Romeinse owerste het vir Jesus gesê: “Spreek net ‘n woord, en my kneg sal gesond word” (Matt. 8:8). (Sien ook Ps 33:4-9; Heb 4:12-13; 1 Petr 1:23; Mat 24:35; Mark 13:31).

Dit is gelouterd en suiwer
Die foutloosheid en volmaaktheid van die Woord word verbind met die feit dat dit absoluut suiwer en gelouter is. Dit is geheel en al beproef as God se onveranderlike en betroubare Woord (Ps. 119:140; Ps. 12:7). Dit is ‘n betroubare woord dat Jesus Christus in die wêreld gekom het om sondaars te red (1 Tim. 1:15).

Dit is soos ‘n vuur en ‘n hamer
Die Woord is soos ‘n verterende vuur en ‘n hamer wat verbrysel (Jer. 23:29). Dit kan die hardste hart sag maak en elke muur van weerstand afbreek indien ons net met ‘n oop en ontvanklike gemoed daarna sou luister. Baie mense verwerp egter dit wat hulle hoor en verhard hulle harte vir die Woord (Heb. 3:7). Op dié manier verbeur hulle die Here se reddende genade (Matt. 23:37).

Dit red sondaars se siele
Ons moet hierdie Woord met sagmoedigheid ontvang, omdat die boodskap daarvan ons siele kan red (Jak. 1:21; 1 Pet. 1:23). Die Here Jesus het sy dissipels intensief onderrig en hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan wat van Hom getuig (Luk. 24:44-45; Joh. 5:37-40). Indien hulle die Woord verwerp, sal hulle in hul sondes sterwe (Joh. 8:24). Jesus het hulle verwyt omdat sy Woord geen ingang by hulle gevind het nie (Joh. 8:37). Die belangrikste rede hiervoor was die teologiese vooroordele van hulle leiers, wat die volk mislei en sodoende die koninkryk van die hemel vir hulle toegesluit het (Matt. 23:13).

Dit is Gees en lewe
Die woorde van Christus is Gees en is lewe (Joh. 6:63). Ná ons wedergeboorte moet ons onsself ook daagliks met hierdie Woord voed, sodat ons geestelik kan opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus (1 Pet. 2:2; Ef. 4:13-14; 1 Tim. 4:6). Hierdie geestelike voedsel is noodsaaklik (Luk. 4:4). Bid om die vervulling met die Heilige Gees, want net Hy kan jou leer en in die volle waarheid van die Woord van God lei (Joh. 14:26; 16:13; 1 Kor. 2:10).
Dit is ‘n tweesnydende swaard
Die Woord is soos ‘n tweesnydende swaard wat indring tot in ons diepste wese waar dit die gedagtes en houdings van ons harte openbaar (Heb. 4:12-13, Ef 6:17; 1 Petr 1:23; Jes 49:2; Op 1:16). Dit wys aan ons watter gedagtes vleeslik en watter geestelik is.

Dit is ‘n vaste rigsnoer vir ons lewe
Dit rig ons voetstappe weg van die pad van sonde af (Ps. 119:101,133; Jos. 1:7). Deur die beloftes in die Bybel in die geloof te aanvaar, bêre ons die Woord van God in ons harte sodat ons teen Hom nie sal sondig nie (Ps. 119:11). Almal wat nie in Christus en sy Woord veranker is nie, se lewens is op sand gebou. Hulle sal sekerlik tot ‘n val kom en vir ewig beskaamd staan wanneer die storms van God se oordele oor die sondaars hulle tref (Matt. 7:24-27).

Dit verlig ons lewe
Alle Christene moet die lig van God se Woord in die wêreld laat skyn sodat sondaars tot bekering kan kom (Ps 119:105; Hand. 26:18). Elke ongeredde mens is in die duisternis van sonde vasgevang, en moet deur die wedergeboorte uit die duisternis van Satan na die Here se wonderbare lig oorkom. In die lig van God se Woord besef ons ons sondigheid en behoefte aan verlossing (Ef. 5:14).

Dit verskaf inligting oor die toekoms
‘n Belangrike deel van die Woord van God is profesieë wat lig werp op die toekoms. Paulus sê ons moenie die profesieë verag nie (1 Thess. 5:20). Daar word ‘n spesiale seën aan ons belowe as ons die profetiese Woord bestudeer en ter harte neem (Op. 1:3). Die sekerheid van ons hoop in Christus word hierdeur bevestig, en ons kry ook inligting oor die toekomstige strategieë wat Satan gaan volg in sy poging om Christene te mislei en te vervolg.

Dit keer nie leeg tot God terug nie
Die Woord van die Here strek óf tot die redding en geestelike opbouing van mense, óf tot hulle veroordeling weens ongeloof. Dit sal dus nie leeg tot God terugkeer nie (Jes. 55:10-11). Die Woord van God sal in alle opsigte volbring word (Op. 17:17) – vir gelowiges én ongelowiges (Num. 23:19). Met sy volmaakte voorkennis weet God wat in die toekoms gaan gebeur, daarom kon Hy vooraf vir elke behoefte voorsiening maak en ook ‘n behoorlike straf vir die sondaars aankondig (Op. 20:15). Die Here het nie behae in die ondergang van die goddelose nie, maar eerder daarin dat hy hom bekeer (Jes. 55:6-7). Dit is waarom die uitnodiging tot bekering aan al die nasies verkondig word (Mat 28:19; Luk 24:46-47; Hand. 17:30-31). In die lig hiervan moet ons die Woord van die lewe vashou (Fil. 2:16).

Dit hou vir ewig stand
“Die Woord van die Here bly tot in ewigheid” (1 Pet. 1:25; Matt. 24:35). Dit bly altyd van krag, raak nooit irrelevant nie en sal selfs ná die huidige hemel en aarde nog steeds voortbestaan. Alles daarvan sal vervul word. Saam met die psalmis kan ons ook die ewigdurendheid van die Here, sy Woord en sy goedertierenheid besing (Ps. 19:9-10; 29:10; 37:18; 44:9; 73:26; 92:9; 111:3; 119:93,160; 135:13).

Persoonlike toewyding
Ek aanvaar die Bybel as die geïnspireerde en foutlose Woord van God. Dit is ‘n kosbare geskenk uit die hemel, omdat God Homself hierdeur aan sy kinders en ook aan die mensdom openbaar. In die Heilige Skrif is nie net die belofte van sondevergifnis en die ewige lewe nie, maar ook voorskrifte oor hoe om die nuwe lewe in Christus op te bou, te versterk, in stand te hou en tot sy volle ontplooiing te laat kom. Die Here wil my daardeur volkome maak, vir elke goeie werk volkome toegerus. Mag Hy my bewaar van onkunde oor sy Woord, wat lewend en kragtig is, sodat ek nooit aan die volgende verwyt skuldig sal wees nie: “Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). Mag die woord van Christus ryklik in my woon (Kol. 3:16; Rom. 10:8-9) sodat ek waarlik in sy liefde gewortel en gegrond kan wees (Ef. 3:17). “Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u Woord kan bewaar” (Ps. 119:101).