In die Hiernamaals

Wat weet jy werklik van die hiernamaals?  Miskien kom jy soos so baie ander met ‘n skok tot die besef dat jy nie werklik iets van die onderwerp af weet nie en dit wat jy weet, het jy ook maar by iemand anders gehoor. Kom kyk wat God vir ons in die Bybel leer aangaande die hiernamaals en die wederkoms van Jesus Christus.

Wat gebeur met die siel van die kind van God na sy dood?

Op die tydstip as 'n mens sterwe, word die band verbreek wat liggaam en siel tot 'n wonderlike eenheid saambind, wat dan veroorsaak dat liggaam en siel los van mekaar is. Die liggaam van die gelowiges word daarna begrawe. Die siel van die gelowige word onmiddelik na die dood deur die engele weggedra direk na Jesus Christus in die Paradys. Daar verkeer dit in 'n bewuste toestand van vreugde en saligheid tot met die wederkoms van Jesus. Met die wederkoms word die siel van God se kind met die verheerlikte liggaam, wat uit die dood opstaan, verenig om die volle saligheid in die Nuwe Jerusalem, op die nuwe aarde te smaak.

In die gelykenis van die rykman en Lazarus sê Jesus die volgende: Luk.16:22 - En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. (Onmiddelik)

Wat het Jesus vir die een rower aan die kruis gesê?
Luk.23:43
- En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
Let wel vandag nog, dadelik!

Wat het Jesus aan die kruis gesê toe hy sterf?
Luk.23:46 - En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.
Dit beteken dat Jesus se gees (siel) onmiddelik na Sy Vader is.

Lees:
Matt.22:31-32; Luk.16:19-32, 26; Luk.23:39-43, 46; Mark.9:2-4, 8-10; Filip.1:21,23; 1 Pet.1:3, 9; Joh.11:25,26; Openb.6:9,10; 7:9-17; 20:4-6 (HK vr. en antw. 57)

Wat sê God oor die hemel? 

Beloftes oor die hemel - "En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God af uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor se: "Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God." (Op.21: 2-3). 1 Pet.1:4-5; 2 Pet.1:10-11; 2 Pet.3:13; Luk.23:43; Joh.14:1-31.

 

Die Hemel

Die HEER wat bo die wentelkringe
van son en maan sy rykstroon stig,
aanskou die mense en alle dinge -
daar's niks bedek voor sy gesig.
Uit sy vaste woning / waar Hy heers as Koning,
sien Hy, Skepper-HEER,
uit oneindig hoë / blou-deurglansde boë
op sy skepsel neer. (Psalm 33:7 Beryming)

 

As ons op 'n helder dag na die hemel opkyk in die diep onpeilbare blou, of as ons in die aand na die eindelose geskitter opkyk, dan kom dit by ons op: "Die hemele loof u wondermag, o Here". Ons kry die wolkehemel, nog hoër op die sterrehemel en daarna die derde hemel. Paulus sê hy was weggeruk tot in die derde hemel, in die Paradys, waar hy onuitspreeklike woorde gehoor het wat 'n mens nie mag uitspreek nie. Hierdie plek is ook die woning van God (Ps. 2:4). Dit is ook die plek waarheen ons siele verhuis na hierdie lewe. Dit is die huis met die baie wonings van ons hemelse Vader (Joh. 14:2-4). Dit is die Paradys waarheen die siele van Jesus en die boetvaardige rower gegaan het, onmiddelik toe hulle aan die kruis gesterf het (Luk.23:43, 46). Daarheen het Jesus weer na sy opstanding opgevaar om te sit aan die regterhand van God die Vader wat troon in sy Majesteit. 

In die hemel woon en troon die almagtige, alomteenwoordige God, wat oor alles en almal regeer en alle dinge beheer en deur Sy voorsienigheid onderhou. Daarheen gaan ons gebede op, ons versugting en smeeking, ons verootmoediging en skuldbelydenis, ons dank, prys en lof. Daar wag ook die legioene en legioene engele op Sy bevele om uitgestuur te word tot diens van diegene wat geroep is tot die ewige lewe. Die engele bring daar, saam met die ontelbare skares van die wat in Christus gesterf het, aan God lofprysing en verheerliking. Die engele wag ook daar om tydens die wederkoms, op God se bevel al die uitverkore kinders bymekaar te maak, vanuit al die uithoeke van die aarde, om Jesus tegemoet te gaan in die lug. 

Op die eiland Patmos het Johannes 'n gesig gesien van die hemel en die troon met 'n reënboog en met vier en twintig trone rondom toe hy hierdie Openbaring van Jesus ontvang het (Openbaring 1:9-20 en Op. 4:1-11). Daarheen dra die engele die siel van die kind van God, onmiddelik wanneer hy sterf. Daar sal die ontmoeting met Christus wees en met al die gelowige familie en vriende wat vooruit gegaan het. Daar sal hulle gekleed in wit klere, as volk van God die ewige sabbatsrus geniet (Op.3:4, 5; 6:11; 7:9, 13; 19:8). 

In die hemel is ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem, wat, as die eerste hemel en aarde verbygegaan en plekgemaak het vir die nuwe hemel en aarde, van God uit die hemel sal neerdaal. Die stad van suiwer goud soos deurskynende glas met sy twaalf pêrelpoorte en die heerlikheid van God wat dit verlig. Daar is geen nag nie, geen sonde of dood, geen smart of rou, geen droeheid of skeiding nie. Daar is 'n lewe van volle geluk en genieting, weelde van kleure, prag en skoonheid, lieflikheid van sang, musiek en aanbidding; die aangrypendste harmonie van beweging; volmaakte LIEFDE. Daar is die ewige lewe met geluksaligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in geen mens se hart opgekom het nie. Van hierdie hemel sing ons:

 

U sal my voortlei deur u raad,
O God, my hulp, my toeverlaat;
En na die dag van aardse stryd,
My opneem in u heerlikheid.

 

Wat sê God van die ewige lewe? 

Beloftes oor die ewige lewe - "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê" (Joh.3: 16). Nadat Martha se broer Lasarus gesterf het, het Jesus vir haar gesê: Joh.11: 23-26 - "Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan. Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag. Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?" 

God is nie ‘n God van dooies nie maar van lewendige persone. Almal wat in Jesus ontslaap het, lewe dus nog steeds. Matt.22:31-32 - "En wat die opstanding van die dode betref -- het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes." (Lees ook: Mark.12:27; Luk.20:38) 

Lees ook:
Matt.25:46; Joh.3:36; Rom.2:7; Rom.6:23; Joh.6:39,40,47,51,58; Filip.3:20; Joh.5:21-29; Joh.11:25; Joh.10:27-28; 1 Joh.2:25; Joh.5:24; 1 Joh.5:11-13.

Wat sê God oor die wederkoms van Jesus? 

Beloftes oor die wederkoms van Jesus - "In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is " (Joh.14:2-3). Joh.14:28; Hand.1:10, 11; 1 Tess.4:13-18; Kol.3:4; Heb.9:28; Op.1:7.

Christus kom weer – dit leer die Bybel ons in duidelike taal. Hy kom Sy bruid haal, naamlik Sy gemeente, die kerk van Christus, vir die bruilof van die Lam. Wanneer Christus kom op die wolke van die hemel, sal Hy met eer en heerlikheid beklee wees. Hy sal kom as die magtige Koning van alle konings. Hy sal omring wees deur 'n leërskare van engele en deur die afgestorwe gelowiges wat reeds die heerlikheid ingegaan het. Hy sal sigbaar wees vir almal op die aarde, net soos die weerlig wat deur die ganse hemel skyn (Mat. 24:27; Luk 17:24; Hand.1:11; Op.1:7). Daar en dan sal dit deur alle oë gesien word dat Hy die seun van God is voor wie elke knie moet buig. Sy koms sal duidelik aangekondig word deur die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God, waardeur die dooies uit die grafte opgewek sal word. Almal sal uit die graf opstaan, maar die kinders van God sal eerste opstaan (1 Tes.4:13-18). Die ongelowiges sal ook opstaan om veroordeel te word tot die ewige straf in die hel.

Wanneer die opstanding van die dooies en die verandering van die wat nog lewe plaasgevind het, sal hulle almal opgeneem word, Jesus tegemoet in die lug.

 

Wat sê God van die opstanding uit die dood?

Lees:
Dan.12:1-3; Jes.26:19; Openb.20:5,6,12-15; 1 Kor.15:1-22, 23-26, 25-44, 51-57; 1 Thes.4:13-18; 1 Thes.5:23; Matt.22:31-32; Joh.5:28-29; 2 Kor.4:14; Ps.73:24; Rom.8:10; Joh.11:25; Op.2:11.
 

Die opstanding uit die dood

Sodra die basuin van God gehoor word wat die wederkoms van Christus oor die aarde aankondig, sal die dooies opgewek word en die kinders van God wat nog lewe, sal verander word, sodat hulle net soos dié wat uit die dood opgewek is, verheerlikte liggame sal hê (1 Tes.4:13-18). By dié wat uit die dood opgewek is, word die siel en die liggaam dan weer verenig. Die opstandingsliggaam sal herkenbaar wees as die persoon wat begrawe is. Jesus het met dieselfde herkenbare liggaam opgestaan as waarin Hy gesterwe het, behalwe dat dit 'n verheerlikte liggaam was. Net soos die graan voortkom uit die saad wat in die aarde gesaai is, so sal die opstandingsliggaam opgebou word uit die liggaam wat in die skoot van die aarde neergelê is (1 Kor.15:36-52).

Die opstandingsliggaam van die kind van God sal ‘n verheerlikte liggaam wees. Dit sal nie meer aan tyd en ruimte gebonde wees in dieselfde mate as ons huidige liggame nie. Daar sal geen seksdrange meer wees nie. "Want wanneer hulle uit die dode opstaan, trou hulle nie en word hulle nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele wat in die hemele is" (Mark. 12:25). "Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees" (Op.21:7). Daar sal verder geen honger of dors wees nie, maar daar sal wel geniet word van die volmaakte vrugte van die boom van die lewe wat elke maand vrugte dra. 

Die vraag is of die uitverkorenes mekaar sal herken in die ewige lewe. Dit blyk so te wees. Jesus was wel anders na sy opstanding uit die graf. Tog het Hy sy persoonlike voorkoms behou en kon sy dissipels Hom herken. Moses en Elia het hul wesenstrekke behou en kon as sodanig herken word op die berg van verheerliking (Matt.17:3-4). Wat betref die grootte van die opstandingsliggaam skyn alles daarop te dui dat die mens ook in hierdie opsig die volmaaktheid deelagtig sal wees, in dié sin dat hy nie ‘n kinderliggaam en ook nie ‘n grysaardsliggaam sal besit nie, maar wel gelykvormig aan die liggaam van Christus in sy skoonste en rykste kragsontplooiing. 

Die oordeelsdag en ewige bestemming 

In hierdie gedeelte gaan dit oor die laaste oordeel, die opstanding en die ewige lewe. Die engele sal daarvoor sorg dat alle mense bymekaargemaak word voor die gerigstroon van Christus. Hulle sal gestel word in twee groepe aan die regter- en linkerhand van Jesus, as skape en bokke, of as gelowiges en ongelowiges (Mat.25:31-46). Die oordeel sal dan deur Jesus as regter gevel word oor elke mens persoonlik. Nogtans sal dit nie ‘n baie lang tyd neem nie. Daarom word dit die oordeelsdag of ook die uur van die gerig genoem. Tyd sal daar egter geen betekenis meer hê nie. Jesus sal met een oogopslag voor elke mens sy ganse lewe laat afspeel, tesame met die goddelike oordeel daarvoor en die hele saak sal afgehandel wees. 

Of ons gered en of ons veroordeel sal word, sal daarvan afhang of ons waarlik in Christus geglo het en Hom ook uit geloof met ons lewe en werk gedien het of nie. Die mense sal geoordeel word volgens hulle werke (Pred.12:14; 2 Kor.5:10; Op.20:12). Op die oordeelsdag sal die boeke geopen word (Op.20:12). Met hierdie boeke word ons gewetens bedoel en ook die boek van die lewe waarin al die name van God se kinders opgeteken is. Daarin word alles wat ons hier op aarde gedink, gedoen en gesê het onuitwisbaar opgeteken, en op die oordeelsdag word dit geopenbaar  (Mat. 12:36; Mat.13:24-30, 36-43; 25:14-46; vgl. Ook NGB art. 37). 

Die vervloektes sal opgewek word met ‘n afgryslike liggaam. Die ongelowiges en goddeloses sal weggestuur word om vir ewig die smarte van die hel saam met die duiwel en sy engele te verduur (Mat.10:28; 25:41, 46; Op.20:8; 21:10). Die gelowiges wie se name in die boek van die lewe opgeteken is (Op.20:12, 15; Dan 7:10; 12:1; Ex 32:32; Lk 10:20; Ps 56:9; 69:28,29; 139:16; Filip 4:3; Openb 3:5; 13:8; 17:8; Openb 21:27; 22:19; Heb 12:23; Mal 3:16 ) sal uit genade, ter wille van die soenverdienste van Jesus Christus, vrygespreek word om die ewige lewe met volmaakte vreugde en geluksaligheid te verkry, as hulle op die nuwe aarde onder die nuwe hemel altyd by die Here sal wees (Op.21:1-7). Hulle kom dus glad nie in die oordeel nie, want Jesus het reeds aan die kruis tenvolle vir hulle betaal (Joh 3:17-19; Joh 5:21-29; 8:32; Mat 25:31-46; Mat 13: 47-50; Rom 8:1-2). Die heerlikheid wat die kind van God daar vir ewig sal ervaar, sal groter wees as wat ‘n oog gesien, ‘n oor gehoor en in die hart van ‘n mens opgekom het (1 Kor.2:9). (Vgl. ook NGB art. 37; HK vrae en antwoorde 44, 52 en 58.) 

Die gedagte aan hierdie oordeel is vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk.  Want dat sal hulle volle verlossing voltooi word en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het.  Hulle onskuld sal deur almal erken word en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het.  Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word;  hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt 25:41).  Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word.  Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt 10:23) en sy uitverkore engele bely;  alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op 21:4).  Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is.  En as 'n beloning uit genade sal die Here self hulle so 'n heerlikheid gee as wat die hart van 'n mens nooit sou kon bedink nie. 

Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

 

 

Die Nuwe Jerusalem
(Beryming van Openb.21:10-27)

Hy het my die stad getoon,
groot en van die hemel dalend,
en, deur God se ligglans skoon,
soos 'n kleurgesteente stralend,
helder soos 'n kristallyn
wat in al sy klaarheid skyn.


Rondom rys, gedug in krag,
twaalftal poorte in die mure.
Elkeen voor sy poort op wag,
staan die eng'le, glansfigure.
Bo hul blink, in vlammespel,
twaalf stamname uit Israel.
 

Lokkend staan die poorte oop,
oop na al die wêreldoorde,
dat die nasies toe kan loop:
van die suide en van die noorde
en vandaar waar son en maan
nie meer op- en ondergaan.



Uit die diepte omhoog geskraag,
rys die muur as skut en wering;
en daaronder, laag naas laag,
lê die ewige fondering.
Van die Lam se apostelskaar
straal daaruit die name klaar.


In die stad se mate was
daar geen kleinheid en geen engte.
Van die klimmende terras
het die hoogte aan breedte en lengte
in sy maat geheel gelyk,
tot die hemelblou gereik.


En die muur was swaar van bou
wat die grote stad omring het;
glanse soos van môredou
was die glans wat dit deurdring het.
En die stad se boustof was
goud, deurskynend net soos glas.


Fondamente uit edelsteen
was dit wat die stad omlyn het.
Pêrelpoorte daaromheen,
wat met sagte lig geskyn het.
Goudbane al die strate was,
maar deursigtig, blink soos glas.


Maar 'n tempel, skoon van bou
(aan wat was nog steeds gedagtig!)
het my oog nie daar aanskou;
want die Here God almagtig
is sy tempel, en die Lam
is die helder altaarvlam.


En geen lig van son en maan,
wat hul wentel langs die transe,
sal daar op- en ondergaan:
God self skyn daar met sy glanse,
en die Lam is self die lig
waar 'n eewge nag voor swig.


 Nasies, vry van die gerig,
kom uit nuwe wêreldlande
om te wandel in die lig.
Konings bring hul offerande
uit 'n volle wêreldskat:
eer en glorie, in die stad.


Vir 'n nag van skrik en vrees
word die poorte nie gesluit nie,
want daar sal geen nag meer wees
en geen klaag- of skrikgeluid nie.
Heerlikheid en eer alleen
trek dan deur die poorte heen.


 Daar sal in die heiligdom
niemand wat die kwaad bedrywe,

ooit of immer binnekom.

Hul van wie die naam geskrywe
in die Lewensboek sal staan,
hulle sal daar binnegaan.

Lees ook Openb.22:1-5

 

<< Terug na Artikels