Is dit sonde?

 

Hierdie vraag word gereeld deur ons jongmense gevra: Is dit of dat sonde -- of dit nou dans of dobbel of wat ook al is. Die antwoord is om elkeen van hierdie dinge eenvoudig aan die Woord van God te toets, en dan sal ons weet.

Voordat ons egter by die toetse kom, moet jy eers 'n paar belangrike vrae beantwoord:

1. Is jy al 'n ware kind van God? So nie, hoef jy nie verder te lees nie. Alles wat jy doen, ook jou "goeie dade" is voor God so vuil soos 'n vuil weggooilap (Jesaja 64:6; Gal 3:10; Deut 27:26). En die mooiste en heiligste lewe tel niks voor God nie, as ons nie eers vir Jesus Christus aanvaar het as ons enigste Verlosser en Saligmaker nie (1 Johannes 5:10-12; Joh. 14:6, 23

2. Is jy gewillig om gehoorsaam te wees? As jy nie gewillig is om deur God oortuig te word nie, kan jy maar los om verder te lees. Maar as jy gewillig is, lees dan biddend verder.

3. Word die spesifieke saak in die Bybel genoem? As die Bybel duidelik oor 'n saak praat (bv. 1 Kor. 6:9-10; Eksodus 20:1-17), is dit nie nodig om die tien toetse te gebruik nie. Dan weet jy mos reeds of dit reg of verkeerd is.

Hoe lyk dit, is jy nog met ons? Kom ons dink aan 'n groot lemoenkoöperasie wat lemoene na die buiteland uitvoer. Daar is 'n groot aantal standaarde waaraan uitvoerlemoene moet voldoen, en elke lemoen word noukeurig ondersoek. As hy in een toets kortkom, word hy onmiddellik uitgegooi. So kom God Self ons ook tegemoet met hierdie tien toetse waaraan elke twyfelagtige saak moet voldoen. Faal hy in een toets, hoort hy nie in die lewe van 'n Christen nie. Gooi hom uit!

 

TIEN TOETSE VIR TWYFELAGTIGE DINGE

1. Wil ek God daardeur verheerlik?

"Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God" (1 Korinthiërs 10:31; sien ook Kolossense 3:23)

2. Is dit 'n las in my geestelike lewe?

"Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding loop" (Hebreërs 12:1. Lees ook Mattheus 18:8-9)

3. Kan hierdie ding tot sonde lei?

"Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg" (Mattheus 5:28. Sien ook Romeine 13:14)

4. In watter geselskap bevind ek my as ek hierdie ding doen?

"Moet julle nie langer laat mislei nie: slegte geselskap bederf goeie sedes" (1 Korintiërs 15:33. Sien ook Psalm 1:1-2).

5. Lei ek ander in die versoeking deur hierdie ding?

"Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie" (1 Korintiërs 8:13).

“Laat ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dit liewer, om nie die broeder 'n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie” (Rom. 14:13).

“Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie” (Rom 14:21).

6. Help dit om ander vir Christus te win?

"Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red" (1 Korinthiërs 9:20-25).

7. Is ek absoluut oortuig dit is nie sonde nie?

Kan ek voor God bely dat dit nie sonde is nie? "Enigiets wat 'n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde" (Romeine 14:23).

8. Watter vrugte dra hierdie boom?

"As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken" (Mattheus 12:33).

9. Wat beveel God vir ons daaglikse lewe?

"Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: "Wees heilig, want Ek is heilig" (1 Petrus 1:15-16)."

10. Help ek my swakkere broeder (of suster) daardeur?

"Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie" (Romeine 15:1)."

Wat dans betref

Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die huwelik (d).

(a) Lev 18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess 4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.

Omdat beide, ons liggaam en siel, 'n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied God alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat 'n mens daartoe kan verlei (c).

(a) Ef 5:3-7; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27, 28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33.

“Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God” (Romeine 6:12-13).

 

1 Petr. 4:1-7 - 1. Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, 2. om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God. 3. Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye. 4. Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saamloop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster. 5. Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel. 6. Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees. 7. En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

 

1 Joh. 2:15-17 - Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is -- die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe -- is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

 

Jak. 4:4 - Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God.

 

Rom. 12:1-2 - Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

 

Rom. 13:12-14 - Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

 

Kol. 3:1-2 - As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

 

Kol. 3:5-8 - Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.

 

Titus 2:11-13 - Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,

 

Jakobus 1:14-15 - Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

 

1 Pet 1:14-16 - Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

 

Efesiërs. 4:20-24 - Maar julle het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

 

Lees ook: Kol. 3:10-17