<< Terug na Artikels

 

 

DIE SIMBOOL VAN DIE KRUIS

 

Die belangrikheid van die kruis in die Christendom is heelwaarskynlik te wyte aan die assosiasie met die “kruisdood” van "Jesus Christus". Die kruis word ook geassosieer met die redding van die mens, deurdat die Messias ons sondes op Hom geneem het (Jes 53: 5 & 6; 2 Kor 5: 21). Uit die vroeë geskiedenis blyk dit ook dat die kruis gebruik is in oënskynlike duiweluitdrywing, genesing en algemene oënskynlike aanbidding en seën. Die vraag is egter of die kruis werklik beskou kan word as 'n Christelike simbool. Beveel God dat ons enige geestelike waarde aan die kruis moet heg? Beveel God dat ons Hom met die kruis moet dien? Het die kruissimbool dus enige plek in die Christelike godsdiens?

 

Daar is tans ‘n al groter neiging van versoening met die Rooms-Katolieke Kerk. Hierdie artikel handel oor een van die argumente oor "die versoening in die Messias en die Bybelse verwysing na die kruis".

 

''Sedert die NG Kerk met sy ekumeniese aksie begin het, is die gesprek met die Roomse Kerk hier ook 'n hoë item op die prioriteitslys - so ook belydenis van volks- en horisontale sondes. Dit is ook waar dat op sekere Christelik-etiese gronde daar gemene delers tussen die Roomse en Prostestantse kerke bestaan, soos onder andere oor aborsie. Dit is ook so dat voorgegee word dat die doel van die gesprekke gaan oor 'n gereformeerde getuienis wanneer oor leerverskille gepraat word. Hierdie soort van gesprekke lei egter maklik tot kompromieë.

 

Wanneer in die kerk se amptelike organe vanuit 'n menslike vroomheidsbenadering oor die Roomse Kerk gepraat word, merk ons begrip vir die kerkleiding se aksie en doelstellings. Op grondvlak vind daar egter 'n ander interpretasie plaas!

 

'n Leraar preek oor die versoening in Christus en die Bybelse verwysing na die kruis. Baie kerkgeboue, veral die oueres, het die kruis as grondplan. Deesdae sien mens in baie kerke die kruis as simbool. Die kruissimbool is ook al eie aan ons “gereformeerde tradisie” waar dit vroeër ondenkbaar was. Die dra van kruistekens word as simbool goedgepraat en raak redelik algemeen.

 

Die dra van 'n kruissimbool om die nek as versiering kom deesdae in toenemende mate voor. As dit nie gedoen word uit ideologiese oorwegings nie maar as versiering, kan dit met iets meer esteties vervang word. Let net op wie dra dit almal. Die dra daarvan is Rooms of (Grieks) Ortodoks. Dit vestig die aandag op lyding wat deur die kruisdood ondergaan is en word dan piëteitsimbool van die armes en algemene menslike lyding. Hierdie horisontale gevoeligheid vir die menslike lyding vind selfs vergestalting in geskrifte soos die Belhar-belydenis en Geloofsverklaring 2000. Van die soenoffer vir die erflike en daadwerklike sondes van die sondige mensewêreld teenoor die voldoening en oorwinning deur die opstanding van Jehushua Messijah is daar nie sprake nie. Intussen buit die juweliersware-industrie en handel die situasie uit deur kruistekentjies as vroulike en deesdae ook dikwels as manlike versierings te vervaardig en te verkoop.

 

Laat ons daarenteen in ons ekumeniese optrede ook duidelik die gereformeerde waarheid oor die Christelike simboliek uitspel. Met 'n toenemende charismatiese uiting in ons kerke kan die Remonstrantse (Arminiaanse) waarde van die Verlosser aan die kruis maklik na die Kruis as tasbare sinnebeeld van horisontalisme in ons denke verplaas word. Maar dan 'n afgodsbeeld wat sekere piëteits of magiese waarde verteenwoordig.

 

Waarsku daarom ons jeug deur die uitspel van die verskil tussen ideologie in kultiese gebruik teenoor simboliek in evangeliese verband.

 

Is die kruis 'n Christelike simbool?

 

Die belangrikheid van die kruis in die Christendom is heelwaarskynlik te wyte aan die assosiasie met die kruisdood van Jehushua Messiah. Die kruis word ook geassosieer met die redding van die mens, deurdat die Messias ons sonde op Hom geneem het (Jes 53:5 en 6; 2 Kor 5:21). Uit die vroeë geskiedenis blyk dit ook dat die kruis gebruik is in oënskynlike duiweluitdrywing, genesing en algemene oënskynlike aanbidding en seën.

 

Die vraag is egter of die kruis werklik beskou kan word as 'n Christelike simbool. Die Woord van JEHUAH sê dat ons dinge moet ondersoek en beoordeel (Deut 13:14; 1 Thess 5:2; 1 Kor 2:15). Die Woord sê ook dat indien die wortels van 'n ding nie goed is nie, die vrug daarvan ook nie goed kan wees nie (Rom 11:16; Matt 7:16 - 19). 'n Suurlemoenboom kan immers nie aarbeie dra nie! Kom ons gaan ondersoek dan waar lê die wortels van die kruis. Ons ondersoek gaan begin by die vroegste (buitebybelse gegewens van die Ou Testamentiese) Bybelse tye.

 

Die kruis is oorspronklik ontwerp as 'n simbool ter ere van Tammuz wat in Galdea as die songod (Baäl genoem in die Bybel) aanbid is (Eseg. 8:13-18). Uit die ou geskiedenis sien ons dat Noag se seun Gam 'n seun met die naam van Kus gehad het. Kus het getrou met 'n beeldskone vrou met die naam van Semiramis. In die Bybel word sy Astarte genoem. Kus het 'n seun met die naam van Nimrod gehad. Hy het die goddelose heerser van daardie tyd geword. Die naam Nimrod beteken "rebel/sterk" (Gen 10:8 - 9). Dit blyk uit ou geskrifte dat Nimrod gerebelleer het teen God, en dat hy verantwoordelik was vir die bou van die toring van Babel.

 

Nimrod het stede begin bou en die mense mislei deur voor te gee dat hy hulle wil help en beskerm teen hulle vyande, maar sy heerskappy het ontaard in 'n tirannie. Nimrod het na homself verwys as 'n "redder" en 'n "messias". Hy het sy volgelinge oortuig dat hulle hom as 'n soort god moet sien, en ook dat hulle God nie nodig het nie, maar op hulle eie kragte moet staat maak (humanisme). Nimrod het 'n valse godsdiens daargestel. Hy het ook menslike offerandes, veral die offer van eersgebore babatjies ingestel. Dit het 'n siek gemeenskap geword en die mense het diep in sonde verval. So siek dat Nimrod selfs met sy eie ma, Semiramis, getrou het (vgl ook 1 Kor 5:1).

 

Nimrod is op 'n gewelddadige wyse dood. Sy volgelinge was gebroke daaroor (vgl Eseg 8:14). Semiramis het weer swanger geraak. Sy het 'n seun gehad en hom Tammuz genoem. Toe die baba gebore is, het sy verklaar dat sy nog 'n maagd was en dat die gees van Nimrod haar bevrug het.

 

Hierdie kind was 'n "reïnkarnasie" van Nimrod, die "beloofde saad en verlosser". Wat 'n slim nabootsing van ons Here Jehushua se geboorte. Semiramis (Astarte) het waarskynlik gehoor van die beloofde Messias wat uit 'n maagd gebore sou word en wat sou sterf vir ons sondes.

 

Hierdie goeie nuus was van die vroegste tye af bekend (Gen 3:15). Sy het verklaar dat Tammuz nou amptelik die songod geword het. En as haar seun dan 'n god is, is sy ook 'n godin! Sy het haarself die "hemelkoningin" genoem (vgl Jer 7 : 18). Dié moeder-kind aanbidding het ook versprei na ander wêrelddele, en beelde van die moeder en kind is oral opgerig.

 

Semiramis het ook menslike offerandes vir die "hemelkoningin" geëis. 'n Kruis is in die babatjie se bors gesny en sy hart verwyder en daarna is hy/sy in die vuur verbrand (Jer 7 : 31; 2 Kon 7 : 17; Ps 106 : 35 - 38). Waarom 'n kruis in die offerande se bors gekerf? Om Tammuz te vereer het Semiramis (Astarte) 'n simbool vir hom ontwerp wat die vorm aangeneem het van die eerste letter van sy naam (T - die mistiese Tau teken). Die kruis het ontstaan en wel in verskeie vorms. Kruise is uit houtpale gemaak en is gebruik vir menslike offerandes sowel as by teregstellings.

 

Hierdie manier van teregstelling was een van die wreedste metodes en is gebruik vir slawe, mense van die laer stand en enige persoon wat nie Romeinse burgerskap gehad het nie.

 

Die vroeë Christene het Messiah nooit aanskou in sy staat van totale vernedering aan die kruis nie, maar eerder in sy staat van verheerliking deur sy opstanding. Hy is die oorwinnaar van die kruis. In die lig hiervan het Christelike kunsvorme aanvanklik nooit enigiets van die kruisiging uitgebeeld nie. Die eerste uitbeelding daarvan, word binne kerkverband gevind in die middel van die vyfde eeu na Messiah, uitgekerf in die houtdeur van Santa Sabina in Rome. Dit was die begin van die uitbeelding van die kruis deur kunstenaars.

 

Allerlei afbeeldings is deur die Roomse "kerk" oorgeneem. Hulle doktrines is direk oorgeneem uit die Babiloniese afgodsaanbidding. Die moeder-en-kind beelde wat oorspronklik ter ere van die hemelkoningin en haar seun Tammuz opgerig is, is in die kerk opgeneem en herbenoem na "Mary, Queen of Heaven and Jehushua". Saam met hierdie beelde het hulle ook die simbool van die kruis oorgeneem. Langs hierdie weg het die simbool van die kruis de ware Christendom binnegedring.

 

Die son, wat die teken van die songod was, is ook deur hierdie Roomse kerk oorgeneem. Let gerus daarop hoe hulle die "heiliges" altyd uitbeeld met 'n stralekrans ("halo") agter en bo die kop, wat die son uitbeeld. Afbeeldings van die kruis wat deur hulle gebruik word, het dan ook dikwels 'n son daaragter. Songodverering op sy beste! Dan sien ‘n mens dit nog in sogenaamde Christelike kerke!

 

Die Woord van God verbied ons om enige beelde of enige gelykenis van enigiets op die aarde of in die waters onder die aarde te vereer en te aanbid (Ex 20:4; Deut 4:19; Lev 19:4). God het goed geweet dat die mens feilbaar en nietig is, en dat dit vir hom makliker is om die "sienlike" te aanbid in plaas van die "onsienlike".

 

Die hedendaagse Christene mag nou op hierdie stadium beswaar maak en sê dat hulle nie die kruis aanbid nie. Die hartseer feit is egter dat hulle sing: "Ek bemin daardie kruis ..." en "By die dierbare kruis ..." ensovoorts.

 

Hulle behang hulleself ook met kruise, plaas dit op embleme en logo's, op preekstoele en gebruik dit as 'n teken van hulle Christenskap. Is dit dan nodig dat ons as Christene 'n teken moet gebruik om ons Christenskap aan te dui? Is dit omdat ons dade en lewenswyse nie hard genoeg spreek, sodat almal waarmee ons te doen kry daaruit kan sien dat ons kinders van God is nie? Sommige Christene raak amper paniekbevange as hulle die dag vergeet het om hulle kruisie om hulle nek te hang. Hulle verbeel hulle dat hul daardie dag baie ongelukkig gaan wees en blootgestel is aan bose dinge (godsdienstige bygeloof). Word ons dan nie ten alle tye beskerm deur die soenbloed van Jehushua Messiah nie? Christene gebruik soms ook, net soos bogenoem, die Roomse kerk, kruise met die son daaragter.

 

 

Interessante feite kan ook gevind word uit ander geskiedenis. Op ou Egiptiese monumente en op die mure van ou Egiptiese tempels vind ons afbeeldings van die Tau-kruis wat gebruik is in hulle afgodsaanbidding. Toe die Spanjaarde die eerste keer in Mexiko land, kon hulle beswaarlik hulle verbasing verberg, want die kruis wat een van die embleme van hulle geloof was, is ook gesien in die tempels van Anahuac. Die Spanjaarde was verbaas dat hierdie nasie wat nog nooit die evangelie ontvang het nie, die kruis in hulle afgodsdiens gebruik. Gedurende die vroegste tye het ook die Aboriginese van Suid-Amerika die kruis as "godsdienstige" simbool gebruik. So word die kruis gevind in baie nasies se vroegste geskiedenis (so vroeg as 1 500 jaar voor Messiah), in 'n tyd toe hulle nog totaal heidens was en die Woord van God nog nie aan hulle verkondig was nie.

 

Wanneer daar in die Bybel van die kruis gepraat word, is dit altyd ten opsigte van twee dinge. Eerstens verwys die kruis altyd na die soenoffer van ons Here Jehushua Messiah. Tweedens het Jehushua gesê dat ons ons kruis moet opneem en Hom volg (Matt 16:24; Mark 8:34; Luk 9:23). Wanneer daar in die Bybel gepraat word van "ons kruis opneem", beteken dit dat ons bereid moet wees om standpunt ten opsigte van die Evangelie van Jehushua Messiah in te neem. Ons moet bereid wees om onsself te verloën, te ly en selfs te sterf vir die Naam van Jehushua Messiah, ons Verlosser. Dalk moet ons versigtig daarna kyk of die kruis nie besig is om 'n groter plek in ons lewens in te neem as Messiah self nie.

 

Het die kruis 'n plek in die ware godsdiens?

 

In die Bybel word van die kruis gepraat as 'n vloekhout (Gal 3:13). Moet ons as Christene daaraan so 'n ereplek in ons lewens en ons aanbidding tot God gee? Besluit self of die kruis as 'n simbool tuishoort in die lewe van 'n kind van God. Besluit self of die kruis vir u 'n besonderse betekenis inhou, soos byvoorbeeld 'n gelukbringer, 'n voorwerp van aanbidding, en of dit miskien die plek van Jehushua Messiah in u lewe ingeneem het. Waarom kom die gebruik van die kruis deesdae skielik weer so skerp na vore? Vereer ons Jehushua Messiah deur die kruis? Dit is nog een van Satan se leuens wat ten doel staan om die ware kinders van JEHUAH op 'n dwaalspoor te lei. Gaan die Christene oor 'n aantal jare van nou af met rooi gesigte staan wanneer hulle besef wat die werklike doel agter die gebruik van die kruis as 'n simbool was?

 

Die enigste simboliek (sakramente) wat Jehushua Messiah ons as sy kinders beveel het om te gebruik, is die Afgesonderde Nagmaal (simboliese betekenis van sy liggaam en bloed) en die Afgesonderde Doop (begrafnis van die ou lewe en die opstanding van 'n nuwe lewe met Messiah). Vergelyk Romeine 6 en 1 Petrus 3:21.

 

 

BRONNELYS:

 

The Two Babylons - deur Hislop

 

Babylon Mystery Religion - deur Ralph Edward Woodrow

 

Crusader Comics - deur Jack Chick

 

Diaboliese Sameswering - deur Bennie Kleynhans

 

The New Schaff-Hertzog Encyclopedia of Religious Knowledge (1909 uitgawe - Vol 3)

 

<< Terug na Artikels