Seëninge en Vloeke Al hoe meer Christene word deur vreemde predikers en boeke beïnvloed om die teologie van bloedlyn- en ander vloeke te omhels (en te vrees). Is dit werklik moontlik dat vloeke wat ander oor jou uitspreek enige effek kan hê? ‘n Plaaslike koerant glo dat rowers en kapers vloeke oor ander uitspreek, en dat dít die rede is hoekom dit sleg gaan met mense. Seën en vloek het altyd met die Allerhoogste Elohim te doen. Dit is Hy wat seën en Hy wat vervloek. In Deuteronomium 27:14-26 word ‘n hele reeks oortredings genoem wat JEHUAH se vloek op die volk sal bring. In hoofstuk 28:1-14 word ‘n lys van seëninge gegee waarmee JEHUAH die Adamiete sal seën wat Sy wil doen, en van vers 15-68 al die strawwe waarmee JEHUAH die Adamiete wat nie na Hom luister nie sal straf (vgl. ook Levitikus 26). Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid bepaal JEHUAH se seën of Sy vloek. Die uitwerking van seën of vloek hang van Elohim af. Spreuke 26:2 sê: ‘n vervloeking gaan by jou verby as jy dit nie verdien nie. (Sien ook Ps 109:17-21) Die seën van JEHUAH beteken dat Hy met Sy genade en goedgunstigheid by jou teenwoordig is. In die Ou Testament sê JEHUAH: Ek is jou Elohim en jy is My volk vir wie Ek met My krag versterk en beskerm (vgl. Sy seën op Abraham in Genesis 12:1-3). In die Nuwe Testament sê Jehushua: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Hy doen dit deur die Apartgestelde Gees wat in ons kom woon om ons aan Hom te verbind, ons daagliks te lei en te versterk (Johannes 14:15-17; Romeine 8:8-17). En niks kan ons skei van die liefde van Elohim wat daar in Messiah Jehushua is nie (Romeine 8:31-39). Die vloek van Elohim beteken dat Hy jou los en jou oorgee aan die krag van Sy vloek wat jou ongeluk bewerk (Deuteronomium 28:20; Maleagi 2:2); dat Hy jou oorgee aan jou eie begeertes, aan die drange van jou harte, aan jou skandelike begeertes, om jouself te vernietig (Romeine 1:24-32) omdat jy Hom nie as Elohim eer en dank nie (Romeine 1:18-23). Sy vloek beteken dat jy deur Elohim verlaat word. Maar Paulus sê vir die Korintiërs: So was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is rein gemaak, julle is vrygespreek in die Naam van die Meester Jehushua Messiah en deur die Gees van Elohim (1Kor 6:11). Jehushua was aan die folterpaal op Golgota deur Elohim verlaat om in ons plek die vloek van Elohim oor ons sonde te dra (Matteus 27:46). Jehushua Messiah het ons vrygemaak van die vloek van die sonde. Bloedlyn vloeke – in Eksodus 20:5-6 eis JEHUAH onverdeelde trou aan Hom, maar vir die kinders van die Adamiete wat dit nie doen nie word die sondes van hulle vaders toegereken tot die derde en vierde geslag van die Adamiete wat JEHUAH haat en Sy Gebooie nie hou nie. Die onverskilligheid en louheid teenoor JEHUAH is aansteeklik in ‘n familie of in ‘n gemeenskap wat JEHUAH nie van harte liefhet nie. Die kinders volg die pad van hulle ouers, en word dikwels nog erger as hulle ouers. Maar JEHUAH betoon Sy liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet en Sy Gebooie onderhou (Ex. 20:6; Deut. 5:10; 7:9). Ook die ouers se opregte toewyding aan JEHUAH en in liefde met mekaar lewe beïnvloed die lewe van hulle kinders om JEHUAH te dien. Die mens wat omdraai en JEHUAH liefhet staan nie langer onder die vloek van JEHUAH nie, maar onder Sy liefde. En JEHUAH se seën is duisend maal meer as Sy vloek van die derde en vierde geslag van die Adamiete wat nie met Hom rekening hou in hulle lewe en optrede nie. In Galasiërs 3:8-14 verwys Paulus na Elohim se belofte aan Abraham in Genesis 12:1-3: in jou sal al die Adamitiese nasies geseën word. Dit is dus dié Adamiete wat in Jehushua glo en Sy Gebooie liefhet, wat saam met die gelowige Abraham geseën word. Maar almal wat staatmaak op hulle eie onderhouding van die wet, val onder die vloek. Messiah het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan geskryf: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is (Deuteronomium 21:23). Daardeur kan ook hulle wat nie in die vlees besny is nie en vroeër heidene was, deur Jehushua Messiah deel kry aan die seën wat Elohim aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof in Messiah die Gees ontvang wat Elohim beloof het. Vir die Korintiërs sê Paulus: As iemand Jehushua Messiah nie liefhet nie – vervloek is hy! Maar as julle aan Sy Woord gehoorsaam is, sal die genade van Jehushua Messiah by julle wees (1Kor. 16:22, 23). Volgens die Bybel is dit dus Elohim, en nie die duiwel nie, wat Adamiete op aarde en in die hel vervloek: “Hoe sal ek vloek wie Elohim nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie JEHUAH nie verwens nie?” (Num. 23:8). Elohim het egter die vloek van Bíleam in ‘n seën verander . Deut 23:5 Maar JEHUAH jou Elohim wou nie na Bíleam luister nie; maar JEHUAH jou Elohim het vir jou die vloek in ‘n seën verander, omdat JEHUAH jou Elohim jou liefgehad het. “Dan sal Hy ook vir dié aan Sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.” (Matt.25:41). Daarom kan geen ongelowige Elohim se kinders deur afgodery, toordokters, voodoo magic , okkultiese rituele, ens. vervloek nie, “Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie…” (Num. 23:23). Let maar op hoe Goliat vir Dawid in die naam van sy gode vervloek het, en hoe hý uiteindelik doodgemaak is (1Sam.17:43). Dat Elohim ‘n kind straf omdat sy pa gesondig het, is eenvoudig nie waar nie. Deuteronomium sê: “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.” ( Deut. 24:16 ). En Esegiël: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.” ( Eseg. 18:20 ). Jer 31:29-31 In dié dae sal hulle nie meer sê nie: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword. (30) Maar elkeen sal weens sy eie ongeregtigheid sterwe; elke mens wat die groen druiwe eet, sy tande sal stomp word. (31) Kyk, daar kom dae, spreek JEHUAH, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; Eseg. 18:1-9 Verder het die woord van JEHUAH tot my gekom en gesê: (2) Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik aangaande die land van Israel, naamlik: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword? (3) So waar as Ek leef, spreek die Meester JEHUAH, dit sal julle nie meer in die gedagte kom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie. (4) Kyk, al die siele is Myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun — hulle is Myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe. (5) Maar as iemand regverdig is en reg en geregtigheid doen; (6) nie eet op die berge en sy oë nie opslaan na die drekgode van die huis van Israel en die vrou van sy naaste nie verontreinig en nie naby ‘n vrou kom as sy onrein is nie, (7) en niemand verdruk nie; wat hy vir skuld as pand geneem het, teruggee; geen roof pleeg nie; aan die wat honger het, sy brood gee en die wat naak is, met ‘n kleed toedek; (8) nie leen op rente en geen woeker neem nie; sy hand terughou van onreg, eerlike regspraak oefen tussen man en man; (9) in My insettinge wandel en My verordeninge onderhou om eerlik te handel — hy is regverdig, hy sal sekerlik lewe, spreek die Meester JEHUAH. Mense wat vloeke oor gelowiges uitspreek se woorde is soos ‘n voëltjie wat in die lug rondvlieg en geen plek kry om te land nie (Spr. 26:2). Elohim het jou lief en sal die vloek in ‘n seën verander (Deut. 23:4-5). Satan self kan nie aan Elohim se kinders vat nie, tensy Elohim dit toelaat nie (Job 1:12, 2:6, 1Joh. 5:18). As mense regtig dinge oor jou kon uitspreek sodat dit gebeur; hoekom kan jy nie ook positiewe dinge uitspreek, sodat dít gebeur nie? Wat van dinge soos: ‘Ek gaan môre ‘n miljoenêr wees…ek sal nooit weer siek word nie…ek kan nie doodgaan nie'? Die woorde "vloek/e, vervloek en vervloeking", kom in totaal sowat 168 keer in die Bybel voor, waarvan meeste in die Ou Testament, en het verskillende betekenisse in die verskillende skrifte. In sekere skrifte beteken dit: (1) "om iemand te vloek"; dus, nie "om 'n vloek op iemand te sit nie", maar eerder "verwensing deur kwaadspreek". Wanneer jy dus iets teenoor ‘n ander uitspreek en dit nie as ‘n vervloeking bedoel nie, dan word daar nie ‘n vloek op die persoon geplaas nie. (dit bly egter verkeerd om kwaad te spreek, of om iemand te vloek); (2) In ander skrifte beteken dit "om 'n vloek op iemand te sit" of dat iemand 'n "verafskuwing" is. (in hierdie geval is die oorgrote meerderheid voorbeelde in die Skrif, (1) gevalle waar JEHUAH ADAMIETE VERVLOEK HET; (2) gevalle waar Hebreeuse ouers vloeke oor kinders uitgespreek het, deur die wil van JEHUAH gedryf, deur profesie – Let wel: asof JEHUAH die persoon vervloek; (3) die gevalle in die Nuwe Testament, waar valse leraars, valse profete, ongelowiges, goddeloses en afvalliges "vervloektes" genoem word, is ook weer-eens gevalle waar "JEHUAH self Adamiete vervloek. Selfs in die Nuwe Testamentiese tye was die onderwerp van "vloeke" nie iets onbekend nie; alhoewel daar 'n duidelike onderskeid is in die hantering van vloeke tussen die Nuwe en die Ou Testament - die rede hiervoor is die feit dat Jehushua Messiah ons vrygekoop het van die vloek van die wet. Enige iemand wat hulself diensbaar stel aan JEHUAH en in Jehushua Messiah glo, word vrygemaak van hierdie vloek van die wet. Maar let wel dat daar op geen stadium in die eerste gemeentes 'n voorbeeld was van waar hierdie vloek sg. verbreek moes word deur ander gelowiges nie, want dit is Jehushua self wat hierdie vloek verbreek op Adamiete se lewens. Daar is mense wat glo hierdie dinge is die oorsaak van huweliksprobleme, finansiële moeilikheid, rebelse kinders, ens. “As jy van hierdie dinge ontslae raak sal jy nie meer probleme hê”, sê hulle. Skielik is dit nie meer omdat jy sonde doen dat jy hierdie probleme het nie, maar omdat daar ‘getoorde' produkte van die buiteland in jou huis is. Nee liewe kind van Elohim. Jy hoef nie bang te wees dat ongelowiges en die duiwel jou deur hierdie dinge sal vervloek nie. Moenie fokus op hoe jy vry kan wees van die vloek nie – jy is vry . Deur Jehushua se dood aan die folterpaal het Hy jou vrygekoop van die vloek wat die wet meebring (Gal.3:13). As sy kind is jy dan nou nie meer onder die vloek nie, maar is jy geseën met alle geestelike seëninge in die hemel in Hom (Gal.3:14, Ef.1:3). En as die Almagtige Jehushua jou vrygekoop het van die vloek, wie sal waag om jou weer met ‘n vloek te probeer ‘bind'? Daar word nêrens in die Bybel daarna verwys dat ons vloeke moet breek of bind nie. Jehushua of Sy dissipels het dit nie beveel of toegepas nie. Jehushua het ons wel geleer om te bid dat ons nie in die versoeking moet kom nie en dat moet bid om van die bose verlos te word. Verder moet ons bid vir die vergewing van ons sondes. Ons mag nie ander dinge byvoeg wat Hy ons nie geleer het nie (Deut 4:2; 12:32; Op 22:18,19; Spr 22:20; 30:5,6; Hand 20:27; 2Tim 3:16, 17). Die doel van Jehushua Messiah se bloed was om ons te reinig ons van al ons sondes. Jy het nie die reg om die bloed van Jehushua in te roep vir ander dinge nie of om die bloed van Jehushua oor sake te pleit nie. Dis is 'n valse leer. Dit word nêrens in die Bybel beveel nie. Jehushua se bloed is een maal gestort vir Sy volk se sondes ( Heb 7:27; Heb 9:12, 26, 28; Heb 10:10). 1Joh 1:5-10 En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: Elohim is lig, en geen duisternis is in Hom nie. (6) As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. (7) Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jehushua Messiah, Sy Seun, reinig ons van alle sonde. (8) As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. (9) As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. (10) As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy Woord nie in ons nie. Die verlossing van Jehushua deur Sy dood op Golgotha is genoegsaam, en daarom hoef jy nie vir bevryding te gaan omdat die vloek van jou vaders se sonde op jou rus nie. Petrus skryf: “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Messiah, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1Pet.1:18 - 19). Deur Sy soendood het Jehushua jou van die grootste vloek in die geskiedenis bevry: die vloek van die sondeval deur die ongehoorsaamheid van Adam (Rom. 5:12 – 21; Gal.3:13). Jy sal nooit weer vervloek word nie en is vry om dié te seën wat jou vervolg en vervloek ( Rom.12:14 ). So, “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:36). Jy hoef nie nog vir bevryding te gaan asof Jehushua se dood aan die folterpaal nie voldoende was nie. Die teologie van bloedlynvloeke is ‘n lekker manier om, soos Adam en Eva, te ‘blameshift' en te sê: ‘My sonde is nie my skuld nie – dis my oupa en oupagrootjie se skuld'. Die teologie van bloedlynvloeke lei mense weg van Jehushua en Sy volmaakte soendood vir al ons sondes af, en versoek ons om te kyk na ‘professionele' mense wat die vloeke kan breek. Is Jehushua dan nie meer sterk genoeg nie? En was Sy dood aan die folterpaal vir sondaars nie algenoegsaam nie? Gal 5:1 Staan dan vas in die vryheid waarmee Messiah ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. Rom 8:1-2 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Messiah Jehushua is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. (2) Want die wet van die Gees van die lewe in Messiah Jehushua het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Ons is nou onder die Nuwe Verbond en wet van Jehushua Messiah. Jehushua Het die Nuwe Verbond en Orde van Melgisedek ingelei met die Verbondsmaal saam met Sy dissipels die aand voor Sy dood ( Mat 26:28; Mar 14:24; Luk 22:20; 1Kor 11:25; Heb 9:15; Heb 12:24; Ps 110:4; Heb 5:6, 10; 7:1, 10-20). In Matt 7:15 waarsku Jehushua ons reeds dat valse profete sal kom: Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Matt 24:11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. 2 Kor 11:13 Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Messiah. 2Pet 2:1-4 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer , en ook die Meester wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg , en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie. Want as Elohim die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word…. Ja nee, dit weet ons, mense hardloop soos ‘n klomp skape agter elke nuwe foefie aan. Dié dat hulle agter die verderflikhede van die valse apostels aanhardloop. |