<<Terug na Artikels

Klik om die artikel te druk

 

 

 

Skrifgegewens met betrekking tot die viering van die Heilige Nagmaal

Vertrekpunte

As vertrekpunt moet ons bely dat die Bybel die Heilige ontwyfelbare Woord van God is. God self praat deur en vanuit die Bybel met ons met Goddelike gesag. Daarom moet die eksegeet buig voor die wil van God soos in die Bybel geopenbaar en nie daarna streef om die Woord van God voor die menslike wil te laat buig nie. Aangesien die Heilige Gees die eintlike Skrywer van die Heilige Skrif is, besit die Skrif ‘n onteenseglike eenheid en Goddelike gesag. Ons moet dus die gesag van die Skrif erken en die voorskrifte en bevele van God gehoorsaam. Die Heilige Gees is immers ook die eintlike Eksegeet van die Heilige Skrif. Op grond van die eenheid van die Skrif word ook gehandhaaf dat God Homself nêrens in sy Woord weerspreek nie.

God het die Bybel vir mense gegee om te verstaan. Indien dit gaan oor so ‘n belangrike saak soos die nagmaal, sal God nie sy kinders in die duister laat nie. Die deursigtigheid van die Skrif word dus gehandhaaf. Die Bybel is die ewige en altyd geldende Woord van God. God het die Skrifte gegee as sy openbaring aan alle mense van alle tye. Wat God oor Homself en sy wil aan die eerste ontvangers geopenbaar het, openbaar Hy deur dieselfde onveranderlike Bybel ook aan ons in hierdie moderne eeu. Dit wat in die vier Evangelies en dit wat deur Paulus en die ander apostels geskrywe is, is voorskrifte en bevele van die Here (vgl. 1 Kor 2:1-16; 1 Kor 11:1,2; 1 Kor 14:37; Gal 1:11,12; 2 Thes 2:15; 2 Thes 3:6). Die Woord van God moet dus eerste gestel word bo alle ander dinge en daarom is ander dinge ondergesik aan die Woord van God. „Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim 3:16,17). (Vgl. ook art. 7 NGB)

Nog ‘n aspek wat in ag geneem moet word wanneer daar ondersoek ingestel word na die suiwere nakoming van Bybelse voorskrifte en die suiwere bediening van die sakramente, is die kenmerke van die ware en die valse kerk.

Die ware kerk

Volgens artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis is daar drie kenmerke waardeur die ware kerk van die valse kerk onderskei word, naamlik:

·         Die suiwer bediening van die Woord;

·         Die suiwer bediening van die sakramente;

·         Die suiwer uitoefening van die tug.

Die suiwer bediening van die Woord

Aangesien dit hier gaan oor die eer van God, is dit noodsaaklik dat die Woord reg en suiwer bedien, uitgelê en verkondig moet word en alles wat daarmee in stryd is, verwerp moet word.

Die suiwer bediening van die sakramente

God wil ons geloof versterk deur die bediening van die sakramente, daarom moet die sakramente presies ooreenkomstig Christus se instelling in God se Woord bedien word en enige afwyking daarvan, moet verwerp word.

Die valse kerk

Volgens artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis is die kenmerke van die valse kerk die volgende:

·         Dit is ongehoorsaam aan die Woord van God.

·         Dit heg meer waarde en gesag aan sy eie besluite as aan die voorskrifte van die Woord van God.

·         Dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord voorgeskryf het nie, maar wyk daarvan af en bedien dit volgens eie menslike oorwegings.

·         Dit vertrou meer op menslike oorwegings as op Christus en wil homself nie aan Christus onderwerp nie.

·         Dit vervolg diegene wat volgens die Woord van God wil lewe en die valse kerk vanweë sy sondes en dwalinge wil bestraf.

Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Kerkorde, art. 62: „Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien. Dit moet egter goed verstaan word dat die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is, nie verander mag word nie, dat alle bygeloof vermy moet word en dat ná die preek en algemene gebede, die formulier van die Heilige Nagmaal, asook die gebed wat daarby behoort, gelees moet word.”

Die instelling van die Heilige Nagmaal

Die Heilige Nagmaal is deur Jesus Christus persoonlik in sy alwetendheid ingestel en God leer ons in sy Woord hoe dit gevier is en hoe ons dit moet onderhou (vgl. Mat 26:17-30; Mark 14:12-25; Luk 22:7-23; 1Kor 10:15-17,21; 1 Kor 11:23-29).

Die Heilige Nagmaal is met ‘n enkel beker ingestel

Volgens die Bybel het Jesus die Nagmaal per beker ingestel en nie met kelkies nie. Mattheus 26:27 lui soos volg: Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.” In 1 Kor 10:16 en 21 sê God: die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie?” In vers 21 Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van duiwels nie.” Volgens 1 Kor 11:23-29 is dit duidelik dat Jesus die Nagmaal met ‘n enkel beker ingestel het en dat sy dissipels uit dieselfde beker gedrink het. In hierdie gedeelte van die Korinthiërsbrief leer God by monde van Paulus die eerste Christene hoe die Heilige Nagmaal gevier moet word: Net so ook die beker na die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.” (1 Kor 11:25-27) (Vgl. ook 1Kor 10:15,16,21; Mark 14:23; Luk 22:17,20.) Die wyn moet aan almal aan die nagmaalstafel uitgedeel word met die opdrag: “Drink almal daaruit” (Mat 26:27). Die drink van wyn uit ‘n gemeenskaplike drinkbeker dien om die geestelike geloofseenheid in Christus te simboliseer. Daarom het die drinkbeker, saam met die wyn as teken, ‘n prominente plek en funksie.

Die Heilige Nagmaal is aan ‘n tafel ingestel

Tydens die viering van die pasga het Jesus die Heilige Nagmaal aan ‘n tafel ingestel (Mat 26:20, 26-28; Luk 22:14; Mark 14:18; 1 Kor 10:21; 1 Kor 11:33). Die eerste Christene het die Nagmaal aan ‘n tafel gevier volgens God se voorskrifte en in die vorm van ‘n maaltyd (Hand 6:2; 1 Kor 10:21; 1 Kor 11:33). „Hierdie feesmaal is ‘n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en strewe laat geniet” (Art. 35 NGB). Die nagmaal het dus ‘n maaltydkarakter en word gesamentlik deur die gelowiges aan ‘n gemeenskaplike tafel gevier. Dit maak daarvan ‘n gemeenskapsmaal.

Tydens die viering van die Heilige Nagmaal gaan dit nie alleen net oor brood en wyn soos sommige beweer nie, maar die drinkbeker en die tafel het ook ‘n prominente plek en funksie. Die gehoorsame kinders van God vier die Nagmaal vir die afgelope 2 000 jaar met ‘n beker en aan ‘n tafel soos Christus dit ingestel het. Aangesien Jesus alwetend is, moes Hy bewus gewees het van al die aansteeklike siektes toe Hy die Nagmaal op hierdie wyse ingestel het. Dit is die beker van danksegging wat met danksegging geseën word. In 1 Tim 4:4-5 lees ons dat alles wat deur God geskape is, goed is en dat niks verwerplik is as dit met danksegging ontvang word nie, want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed. Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan (1 Kor 10:26). Die viering van die Nagmaal moet ‘n geloofsdaad wees en tot eer van God. As iemand twyfel as hy eet, is hy veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie. Alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde (Rom 14:23). Dieselfde reël sal ook geld as iemand twyfel as hy uit die beker wat geheilig is drink. In Lukas 11:39,40 sê Jesus die volgende: „Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid. Onverstandiges, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie?” Jesus sê by monde van Mattheus dat dit nie voedsel of drank is wat in die mond ingaan wat die mens onrein maak nie, maar die slegte dinge wat uit die mond uitgaan wat die mens onrein maak (Mat 15:11-20). „Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel. Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk” (Tit 1:15,16). Jesus sou nie die Nagmaal op hierdie wyse ingestel het en beveel het dat dit so gevier moet word as dit tot nadeel vir sy volgelinge sou strek nie. Ons lees in Mattheus 7:9-11 die volgende: „Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!”

In Galasiërs 1:6-10 spreek Paulus sy bekommernis uit dat die Galasiërs so gou afvallig geword het na ‘n ander evangelie toe. Hy verseker hulle dat daar nie ‘n ander evangelie is nie, maar dat daar sommige mense is wat hulle in die war wou bring deur die evangelie te verdraai. In vers 8 sê hy: „Maar al sou ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!” God waarsku ons dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang (1 Tim 4:1-5). Hy waarsku ons verder teen die afval en dat daar ‘n tyd sal aanbreek wanneer mense die waarheid nie sal glo nie, maar eerder die leun sal glo (2 Thes 2:9-12). Die Duiwel wat die vader van die leun is verdraai God se woord al sedert die vroegste tye. Die Duiwel stel gereeld alternatiewe in die plek van wat God ingestel het of beveel het om die kinders van God te verlei (vgl. ook 2 Tim 4:2-4). In Mattheus 7:15 waarsku God ons ook teen die valse profete wat in skaapsklere na ons sal kom, maar van binne roofsugtige wolwe is. (Vgl. ook 2 Tim 3:5)

God eis van ons gehoorsaamheid. Ons moet God meer gehoorsaam wees as aan die mense (Hand 4:19; 5:29; Joh 14:15-24). God se eer is belangriker as die eer van mense. Indien die meerderheid verkeerd is, mag ons hulle nie volg nie (Exodus 23:2). Ons mag nie afwyk van die Skrifbeginsels of die nagmaal vervals nie. As dit gaan om die eer van God, kan ons nie toegewings maak deur af te wyk van die waarheid om ongehoorsame mense tevrede te stel of te behaag nie. God se eer is die belangrikste en die mens moet buig voor die eer van God. Indien daar van die Skrifbeginsels afgewyk word is dit eiewillige godsdiens. Die mens dien God deur middel van eiewillige godsdiens soos die mens wil en nie soos God wil nie (Kol 2:22,23). Mensgerigte, eiewillige en selfgemaakte godsdiens word ten sterkste deur God veroordeel en gestraf (Lev 10:1-3). Dit blyk ook duidelik uit die optrede van Saul, wat die bevele van God volgens sy eie goeddunke uitgevoer het en nie soos God hom beveel het nie (1 Sam 15:22,23). Die Nagmaal moet dus suiwer bedien word soos dit in die Woord voorgeskryf is. „Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here” (1 Kor 11:27). „Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy oordeel eet en drink as hy van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink nie (1 Kor 11:29). Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot ‘n vurige liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle brousels en verwerplike versinsels wat mense by die sakrament byvoeg en daarmee vermeng het, as ontheiligings daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het, en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het” (Art. 35 NGB).

Die gesag en waarheid van die Heilige Skrif mag nie ontken word nie. Daar kan dus geen twyfel by die gelowige kind van God bestaan oor die feit dat Jesus die Nagmaal met ‘n beker ingestel het, dat hulle almal daaruit gedrink het en dat dit aan ‘n tafel in die vorm van ‘n maaltyd plaasgevind het nie.  Ons moet ons ook voortdurend meet aan die kenmerke van die ware kerk. Wanneer daar afgewyk word van God se voorskrifte en die Heilige Nagmaal vervals word om mense te behaag, word daar voldoen aan die kenmerke van die valse kerk. Indien ‘n valse kerk volhard in sy dwalinge en weier om hom van sy sondes te bekeer, moet die gehoorsame kinders van God hierdie kerk verlaat en ‘n suiwer kerk stig soos wat Martin Luther gedoen het (vgl. Openbaring 18:4 „Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.” vgl. ook 1 Tim 6:3-5 „As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.” vgl. ook 1 Tim 6:11 „Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.” vgl. ook 1 Kor 5:13).

<<Terug na Artikels