|
Prof.
D. Engesma - The Passion - Afrikaans
Waarom mag 'n Gereformeerde Christen nie die film:
"The Passion of the Christ" kyk nie?
Wat behoort sy of haar getuienis te wees teenoor die wat dit wel
kyk
Galasiërs 3:1 " o, ONVERSTANDIGE Galasiërs, wie het
julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor
wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?"
Galasiërs 3:13 "Christus het ons losgekoop van die vloek
van die wet deur vir ons 'n vloek te word * want daar is geskrywe:
Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang."
Galasiërs 6:14 "Maar wat my betref mag ek nooit roem nie,
behalwe in die kruis van ons Here Jesus Christus, deur wie die wêreld
vir my gekruisig is en ek vir die wêreld."
Vandag stel Hollywood * gedugte vyand van die Christelike geloof en
vernietiger van 'n menigte siele * 'n nuwe film vry: The Passion of
the Christ. Let op die datum 25 Februarie. (Ash Wednesday=Roomse Heilige
dag)
Aangesien die onderwerp van die film die lyding en sterwe van Jesus
Christus is, het menige Christen leiers, kerke en belydende Christene
die film lof toegeswaai. Hulle woon dit in groot massas by. Die film
word lof toegesing as 'n godsdienstige-geestelike ervaring.
Ek waarsku teen bywoning
Wie ookal die film bywoon, sondig. Dit is 'n gruwelike sonde teenoor
ons geliefde Here en Koning Jesus Christus en Sy glorieryke kruis.
Dit sal amper net so gruwelik wees om 'n vuil X-gegradeerde film te
kyk. Ek sal aantoon waarom dit so 'n gruwel sonde is. Die rede waarom
u dit nie kyk nie, sal ook 'n getuienis wees teenoor ander om dit
nie te doen nie. Dit is Godslasterlik!
Om die film te kyk sal jou medeskuldig maak aan die Godslastering
van die film. Godslastering is 'n verwerplike belediging en 'n vermetelde
aanval op die Heilige God en ons glorieryke Here Jesus Christus deur
woord en daad. 'n Sondaar, verfoeilike *'n Hollywood-akteur! * mens,
waag dit om die sondelose, glorieryke Jesus Christus te verpersoonlik!
'n Korrupte mens speel die "man van smarte." Godslasterlik!
Buitendien, Christus het opgestaan uit die dood en is die geestelike
Here van glorie wat in die hemel aan die regterhand van God sit. Dit
is boos om selfs te poog om Christus "na die vlees" voor
te hou, dit is, in 'n aardse gedaante. In II Korinthiërs 5:16
sê die Bybel dat ware Christene Christus nie ken of probeer
ken "na die vlees" nie.
Verder, alhoewel Jesus 'n ware mens was, is Hy ook God en die goddelike
natuur was nooit geskei van sy mensheid nie. Jesus se Godheid is nie
geskei van sy mensheid nie, selfs aan die kruis ja, veral aan die
kruis, is Sy Godheid en mensheid nie geskei nie. Slegs omdat die een
wat gelei het aan die kruis die ewige Seun van God is, het Sy lyding
die verdienstelikheid en waarde gedra om ons te verlos van die sonde.
'n Bose mens * 'n Hollywood akteur! * speel God. Godslasterlik!
Die akteur, die vervaardiger en die film self verbreek die eerste
en tweede gebod. Van 'n mens sê hulle: "hierdie is God"
Dit verbreek die eerste gebod wat dit verbode maak om enige God behalwe
die Drie-Enige, een ware, lewende God in die hemele te aanbid. Van
God sê hulle: "Hy het die voorkoms van 'n Hollywood akteur
wat Hom speel." Dit is in stryd met die tweede gebod wat die
maak van enige afbeeldings van God verbied.
Wie ookal hierdie film kyk, keur hierdie Godslastering goed, betaal
daarvoor en neem daaraan deel. In Efésiërs 5:11 beveel
die Bybel ons: "en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke
van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer." The Passion
of the Christ is 'n daad van die duisternis. Dit lewer geen vrug vir
God of die gemeente nie. Ons verwerp dit. Die film is Godslasterlik
omdat dit waag om dit wat Jesus Christus eenmalig vir ons gedoen het,
gelei en gesterf het voor, te dramatiseer. Die verskriklike kruisiging
van Jesus Christus.
God se grootste daad in die geskiedenis: om Sy genade en regverdigheid
te openbaar, om Sy uitverkore kerk te verlos, om die bose wêreld
(insluitend die verfoeilike Hollywood) te oordeel, die kruis, alles
is perfek beplan deur God. Ons het die duidelike openbaring daarvan
in die Bybel. Vir enigeen om dit te probeer naboots is om daardie
wonderdaad van God in die geskiedenis te besoedel. Dit is soos 'n
doodgewone huisverwer wat dink hy met sy verfkwas kan verbeter op
Rembrandt se Nagwag.
Die feit is, die lyding van Jesus Christus mag nie en moet nie herhaal
word nie. Sy lyding was uniek: die dra van die toorn van God as plaasvervanger
vir Sy gemeente. Die geestelike lyding kan nie gedramatiseer word
nie. Meer nog, Sy lyding is voltooi met Sy sterwe. Dit mag nie herhaal
word nie. Die Bybel sê: "so sal Christus ook, nadat Hy
eenmaal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede
maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid."
Hebreërs 9:28. Die film kruisig Jesus Christus weer.
Beelde aanbidding
Tweedens, om die film te kyk is ongehoorsaamheid aan die wil van God.
Dat ons moet leer van Jesus Christus en Sy lyding slegs deur die Woord
van God. Die Bybel en die suiwer prediking van die Woord.
Die film is nie slegs/hoofsaaklik vir vermaak nie. Dit het ten doel
om/is godsdienstige opvoeding en evangelisasie. Dit het 'n evangeliserende
effek op die wat dit sien. Dit leer die mense aangaande die "Jesus"
wat hulle op die skerm sien. Dit bekeer selfs mense tot daardie "Jesus".
Prostestantse en Rooms Katolieke leiers moedig hul volgelinge aan
om die film te kyk vir hul geestelike verryking.
Maar, die enigste wyse waardeur dit God behaag om ware kennis van
Christus en Sy kruis te gee, is deur die prediking van Sy Woord. Galasiërs
3:1 wat ek saam met u lees: "julle voor wie se oë Jesus
Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?" Ons Gereformeerde
belydenis, die Heidelbergse Kategismus leer: Antwoord 96: "Dat
ons van God nooit enige afbeelding mag maak nie en Hom op geen manier
mag vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie." Dit is die
wil van God (Jes.40:18,19,25; Deut.4:15,16; Rom.1:23; Hand.17:29;
1Sam.15:23; Deut.12:30; Matt.15:9). Sy mense sal die evangelie leer
slegs deur die Woord van God. Dit is 'n belangrike element van die
tweede gebod.
Om die film te kyk met die doel om die lyding van Christus (beter)
te begryp, is sonde teen die tweede gebod. Die enigste ander motief
om die film te kyk is vir vermaak. Kom ons vermaak mekaar op 'n Woensdagaand
met die lyding van Christus. (absurd-APB)
Ongeag die motief van die wat dit kyk, die film gaan hulle godsdiens
leer. Maar die ware lyding van Christus was nie fisies nie. Dit was
Christus se lyding onder die toorn van God wat geen film kan weergee
nie. Dit is wat ons leer in Galasiërs 3:13 wat ek aan u voorlees:
"vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang." Omdat die ware
lyding van Christus die geestelike lyding van die hel was, beklemtoon
die Bybel nie die fisiese lyding van Christus nie, dit word nie in
bloederige detail weergegee nie. Dit noem dit, maar dit laat ons nie
toe om daarop te fokus nie.
Rooms-Katolieke dwaalleer
Derdens, diegene wat dit wel kyk stel hulself bloot aan (kwaadwilliglik
noudat u verstaan waaroor die film gaan) Rooms-Katolieke lering omtrent
Christus, die kruis en saligheid. Die film is Roomse propaganda. Dit
sal aan die publiek vrygestel word vandag 25 Februarie, hoekom? Omdat
dit Ash Wednesday, 'n Rooms-Katolieke heilige dag is. Die Rooms-Katolieke
Vervaardiger, Mr. Gibson, het die film beskryf as 'n "Mariaanse
film". Die film vertoon Maria, die moeder van Jesus net soveel
as Jesus. Maria is prominent op die voorgrond elke tree na die kruis
soos die kruis self. Sy is teenwoordig in die film as 'n mede- bemiddelaarster
en die mede-verlosster saam met Jesus. Ons het slegs vir Jesus as
Verlosser deur middel van Maria.
Minder subtiel word die Roomse perwersie van die Nagmaal- die Roomse
Mis * gepromoveer. Deur die naasmekaarstelling van beelde leer die
film dat die wyn en die kelk van die Mis die letterlike bloed is wat
vloei op Golgota. Deur 'n toneel waarin, nadat sy die bebloede Jesus
gesoen het, Maria na die kamera draai met die bloed op haar lippe,
toon die film dat ons letterlik die bloed moet en kan drink met ons
fisiese monde. Die basiese idee dat mense gered kan word deur te konsentreer
op Jesus se lyding en bloed sodat hulle emosioneel aangetrokke kan
voel tot Jesus is 'n Rooms-Katolieke begrip. Waar in hierdie emosionele
aangetrokkenheid tot 'n bloederige Jesus is kennis van die geregtigheid
van God? Waar is bekering? Waar is geloof?
Die Rooms-Katolieke leer van Maria, Jesus, die kruis en ons saligheid
is 'n valse leer. Die Roomse leer aangaande Maria is 'n ontkenning
van Christus as die enigste middelaar en verlosser. Die Roomse leer
van die Mis is 'n ontkenning van die een offer van Christus en is
vervloekte afgodery. Hierdie is nie my oordeel nie. Dit is u oordeel
en elke ander Gereformeerde Christen omdat dit die oordeel is van
die Heidelbergse Kategismus. In Vraag en antwoord 80 bely ons: "Watter
onderskeid is daar tussen die nagmaal van die Here en die Roomse mis?
Antwoord. Die nagmaal van die Here betuig aan ons dat ons volkome
vergewing van al ons sondes het deur die enige offerande van Jesus
Christus wat Hy self eenmaal aan die kruis volbring het (a), en dat
ons deur die Heilige Gees Christus ingelyf word (b) wat nou na sy
menslike natuur nie op die aarde is nie maar in die hemel aan die
regterhand van God sy Vader (c), en daar deur ons aanbid wil wees
(d). Maar die mis leer dat die lewende en die dode nie deur die lyde
van Christus vergewing van sondes het nie tensy Christus nog daagliks
vir hulle deur die mispriesters geoffer word en dat Christus liggaamlik
onder die gestalte van die brood en wyn is en daarom ook daarin aanbid
moet word; en so is die mis in die grond niks anders nie as 'n verloëning
van die enige offerande en die lyde van Jesus Christus en 'n vervloekte
afgodery (e). (teksverse volg - sien HK)
Die Roomse leer van die kruis, dit is, die lyding van Christus, is
'n ontkenning van die eens-vir-altyd offer van Christus. Rome se Christus
hou nooit op om te lei nie. Dit is duidelik volgens een van Rome se
gunsteling beelde, die krusefiks: 'n Kruis waaraan Christus steeds
hang. Rome kruisig Christus opnuut elke keer as hulle die mis vier.
Die Rooms-Katolieke Vervaardiger kruisig Christus opnuut vir die redding
van sondaars in die film. Die boodskap van die film is dat Christus
steeds ly en sterf elke keer as die film vertoon word.
U sal nie aanbid in 'n Roomse mis nie (u behoort nie-APB) U sal nie
lering aanvaar van 'n Roomse Priester nie. Waarom sal u uself blootstel
aan Rooms-Katolieke dwaling in 'n film, wat 'n baie effektiewe vorm
van opleiding is?
Leer van die kruis by die erediens
Jongmense van die Verbond van God, om te leer van Christus en Sy kruis
gaan na die Bybel en die erediens. Daar en slegs daar, leer Christus
die waarheid omtrent Homself en Sy leiding. Hy leer op so 'n wyse
dat jy kan glo en gered word. Die film dreig om die ware kennis wat
jy het van Christus en die kruis te vernietig * moontlik vir ewig.
Vanoggend het 'n Prostestantse leier gesê dat "as jy hierdie
film gesien het, jy nooit weer die Bybel sal kan lees sonder die beeld
van die akteur in jou gedagtes nie." Hierdie dwase man het dit
beskou as 'n aanbeveling om die film te kyk. God behoed ons dat u
of ek die Bybel lees of die evangelie hoor of voor God in aanbidding
verkeer met siele waarop die beelde van die film afgestempel is.
Hulle wat die film kyk huil oor die lyding van Christus. Maar die
kaartjie van hierdie vertoning het ewige gevolge. Ons moet nie jammer
wees oor die lyding van Jesus nie. Hy het aan die huilende vroue gesê
om nie oor Hom te huil nie toe Hy oppad was na die kruis. (Lukas 23:28).
Moenie huil oor die lyding van Christus nie. Vervloek is die nat sneesies.
Huil oor jou sondes wat Hom aan die kruis laat hang het, nie oor die
kruis nie. Christus het Sy lyding verdien Hy het al Sy lyding verdien,
Sy leiding was die straf van 'n regverdige God vir jou skuld en myne.
Moenie huil oor die lyding van Christus nie, nee, nie een traan nie.
Die kruis van Christus het ons verlos daarom sê die Bybel in
Galasiërs 6:14. "Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie,
behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld
vir my gekruisig is en ek vir die wêreld."
Die film is boos maar dit is 'n kragtige meduim. Satan sal dit gebruik
om jou seer te maak, om jou suiwer kennis van Jesus Christus te verwoes.
Moenie die risiko loop om onder die oordeel van God te kom nie. Moenie
jou inlaat in die sondigheid van die film nie. Bly weg! Skeur op jou
kaartjie as jy reeds een het! Bly weg vir jou Verlosser se onthalwe
wat jou lief het en Homself vir jou geoffer het. Skei jouself af van
die onheilige wêreld en die dwase en valse kerke!
Getuig. Getuig deur nie die vertoning by te woon nie. Getuig deur
jou weiering om die vertoning te kyk te verduidelik wanneer jy die
geleentheid het. Getuig deur mense wat van Christus wil leer na die
Gereformeerde erediens te nooi. Sê iets soos: "Wil jy leer
van Hom en Sy lyding vir ons sonde? Jy kan van Hom en Sy kruis leer
in die kerk, nie in 'n Bioskoop nie!"
Hierdie is 'n vertaling van 'n toespraak van Prof. David Engelsma,
Professor aan die Teologiese Skool van die Prostestantse Gereformeerde
kerk in Amerika, by die Covenant Christian School te Grand Rapids,
Michigan, die oggend van 25 Februarie 2004. Die toespraak is gepubliseer
in die Standard Bearer, 1 April 2004. Die film is daardie aand vrygestel
aan die algemene publiek in Amerika.
Vertaal deur Oudl. Alwyn Bezuidenhout (082-877-6458). Gereformeerde
Kerk Stilfontein.
(Moet dit dan nie eerder "Passion of the Beast" wees nie?)
<<Terug
na Artikels
|