Die Uitnemender Weg 

Daar is seker geen gelowige (veral vroue) wat die lied oor die liefde in 1 Korinthiërs 13 nie baie goed ken nie. Tog let baie min mense op die konteks waarin dit staan, naamlik in die sentrum van die drie hoofstukke oor God se genadegawes (Hoofsukke 12-14). Die “uitnemender weg” is die hoofsaak van die briewe aan die Korinthiërs en is daarom in die middel van die drie hoofstukke geplaas. Dit is dus die fokuspunt van hoofstukke 12-14: LIEFDE (Grieks: agapê = liefde ten spyte van) is die hart, die belangrikste, die vorstin onder al die ander gawes van die Gees aan gelowiges. Trouens, al die ander genadegawes is sonder die liefde sinloos, leeg en lawaaierig (verse 1-3) want liefde is nie selfsugtig, selfvoldaan, grootpraterig en jaloers nie (verse 4-7). 

Daar is nog twee redes waarom liefde die ander genadegawes oortref: Agapê is onverganklik, terwyl die ander genadegawes uitgedien raak (verse 8-10) en agapê is die teken van geloofsvolwassenheid, terwyl die ander maklik kinderagtigheid verraai (vers 11). 

Hierdie "liefde ten spyte van" is seker vir ongelowiges net so moeilik om te gee as onvoorwaardelike vergiffenis. Trouens, dit is slegs moontlik wanneer Jesus se onvoorwaardelike liefde en vergiffenis deur die Heilige Gees in jou geloofsare vloei. 

Wat sê die Bybel van die uitnemender weg? Hoe weeg jy op teenoor God se maatstaf vir 'n ware Christen? Wat is God se maatstaf waarvolgens 'n Christen gemeet word? In sy les aan die Korinthiërs oor die uitnemender weg, gee Paulus die maatstaf vir 'n ware Christen.

Kom ons kyk nou na 1 Korinthiërs 13:13 --

 

 

Die Maatstaf vir 'n Christen

 En nou bly

 Geloof
Hoop
Liefde

hierdie drie; maar die grootste hiervan is

 LIEFDE

 

 

Geloof, hoop en liefde is dus drie uiters belangrike aspekte in ‘n Christen se lewe.

Wat beteken “geloof”, “hoop” en “liefde”?

 

q       Geloof 'n Ware geloof is 'n gewisse kennis dat alles in God se Woord waar is en dit is ook 'n vaste vertroue in die vergewing van sondes in Jesus Christus en 'n geloof in die ewige lewe. (Heb. 11:1-40) en (Heidelbergse Kategismus vraag en antw. 21)

q       Hoop – sekerheid, toekoms gerigtheid en positiewiteit – die toekoms is oop, want God is ten volle in beheer. 

q       Liefde – Agapê (Grieks: agapê = liefde ten spyte van) "nie fisieke, emosionele liefde nie"- in die eerste plek, liefde tot God. Indien jy God lief het met jou hele hart, hele siel en hele verstand en al jou kragte, sal jy outomaties Sy voorskrifte nakom. Dan sal jy ook outomaties jou naaste liefhê soos jouself – opregte en onvoorwaardelike broederliefde en susterliefde vir God se ander kinders.

 

In Johannes 13:34 sê Jesus: " ’n Nuwe gebod gee ek julle: dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." In Romeine 13:10 staan daar: "Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet."

Geloof, Hoop en Liefde is meetbaar!

 

 WERKE of DADE
van
GELOOF

 

STANDVASTIGHEID
van
HOOP

 

ARBEIDSAAMHEID
van
LIEFDE

 

Geloof is meetbaar deur middel van werke of dade. Hoop is meetbaar deur middel van standvastigheid.  Liefde is meetbaar deur middel van arbeidsaamheid en ywer.

Kom ons kyk nou of die gemeente van Korinte werklik so gelyk het.

Waaroor dank Paulus God oor die gemeente van Korinthiërs?

1 Korinthiërs 1:4-7
4."Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is,
5 dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis;
6 soos die getuienis aangaande Christus bevestig is onder julle,
7 sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus," 

Hulle is ryk in Christus en het elke genadegawe wat nodig is om hulle as gemeente te laat funksioneer. 

Maar het die gemeente van Korinthiërs so opgetree? Paulus gaan voort deur die volgende in hoofstuk 3 te sê:

1. "En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike (“volwasse in die geloof”) mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
2. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,
3. omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?" (1 Korinthiërs 3:1-3) (Sien ook Heb. 5:12-14)

Paulus sê dat die gemeente van Korinthiërs nog klein kindertjies in die geloof is en dus kinderagtig. Dit wil sê nog baie swak, soos babatjies. Hulle moes nog met “melk” gevoed word, want hulle kon nog nie vaste kos eet nie. Hulle kon nog nie die ware en volledige Woord van God aanvaar nie. Dit was te erg vir hulle. Hulle kon dit nie verwerk nie. Hulle moes nog met mooi en soetsappige storietjies vermaak word aangesien hulle nog geestelik onvolwasse was. Hulle was nog geestelik onvolwasse omdat hulle nog nie die uitnemender weg gevolg het nie.

Het die gemeente van Korinthiërs geloof, hoop en liefde gehad? Wat het hulle wel gehad? Hoe het hulle opgetree? 

Kom ons kyk hoe het die gemeente van Korinthiërs opgetree: 

1 Korinthiërs 1:11 -"Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is." 

1 Korinthiërs 3:3 - "omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?" 

1 Korinthiërs 4:18 - "Maar sommige het opgeblase geword, asof ek nie na julle sou kom nie;" 

1 Korinthiërs 5:1 -  " 'n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so 'n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie." 

1 Korinthiërs 6:7 - "Dan is dit al werklik 'n gebrek onder julle, dat julle regsake (hofsake) met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?" 

1 Korinthiërs 8:9 - "Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien 'n struikelblok word vir die wat swak is nie." 

In 1 Korintiërs 12, verduidelik Paulus hoe die geestelike gawes in die gemeente moet funksioneer asook die eenheid in die gemeente. Dan sluit hy hoofstuk 12 af met die volgende: “Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle 'n nog uitnemender weg.

Paulus begin hoofstuk dertien met die “uitnemender weg” of die “allerbeste” weg - die liefde! Dis hoe uiters belangrik die liefde tot God en onderlinge liefde in die gemeente en in jou verhouding met jou medemens moet wees. Paulus sê dat, al het ons die gawes ontvang om in tale te spreek, te profeteer en selfs al besit ons al die kennis en geloof om berge te versit, sal ons niks wees sonder liefde nie. Die mens mag sover gaan om sy klere uit te deel en sy liggaam te laat verbrand - dit sal hom niks baat as dit nie vanuit die liefde is nie! 

Aangesien die gemeente van Korinthiërs ’n groot gebrek aan liefde gehad het, het God by monde van Paulus in

1 Korinthiërs 13 vir hulle ’n volledige les van die liefde gegee. Ons sien hier dat Paulus ’n aantal beskuldigings maak teen die gemeente in Korinte. (Woorde in hakkies is by gevoeg.) 

"Al sou ek die tale van mense en engele spreek (soos julle kan Korinthiërs), en ek het nie die liefde nie (soos julle nie het nie Korinthiërs), dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê (soos julle het Korinthiërs), en al die geheimenisse weet en al die kennis (soos julle Korinthiërs), en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie (soos julle nie het nie Korinthiërs), dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie (soos julle nie het nie Korinthiërs), dan sou dit my niks baat nie."

 

 

Die Klagstaat

 

Paulus sê liefde...

is lankmoedig
is vriendelik                                                     Twiste (1 Kor. 1:11)
is nie jaloers nie                                                Jaloers (1 Kor. 3:3)
praat nie groot nie                
is nie opgeblase nie                                          Opgeblase (1 Kor. 4:18)
handel nie onwelvoeglik nie                              Onsedelikheid (1 Kor. 5:1)
soek nie sy eie belang nie
word nie verbitterd nie
reken die kwaad nie toe nie                              Regsgedinge (hofsake) 1 Kor. 6:7)
is nie bly oor die ongeregtigheid nie
is bly saam met die waarheid
bedek alles, glo alls, hoop alles, verdra alles      Struikelblokke (1 Kor. 8:9)

Die liefde vergaan nooit...

 

 

 

 

Die klagstaat toon terreine aan waar die Korinthiërs misluk het om liefde te betoon. God kla die Korinthiërs aan op elkeen van hierdie terreine aangesien hulle op al hierdie gebiede tekortgeskiet het. Wat sê God nou werklik by monde van Paulus? 

Korinthiërs… 

…profesieë is tydelik, liefde is ewigdurend; 

…tale is tydelik, liefde is ewigdurend; 

…kennis is tydelik, liefde is ewigdurend. 

Korinthiërs, julle het julle fokus op die verkeerde dinge ingestel!

 

Hoe behoort ons te lyk en op te tree? 

1 Kor.13:4-7 en 13 - Die liefde is lankmoedig [is ons lankmoedig en geduldig teenoor medebroers en medesusters?] en vriendelik; [tree ons vriendelik op?] die liefde is nie jaloers nie [beskinder ons nie mekaar nie?]; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, [is ons grootpraterig?] 5. handel nie onwelvoeglik nie [hou ons, ons besig met onkuise dade, woorde, praatjies of gedagtes?], soek nie sy eie belang nie [soek ons, ons eie belang ten koste van ander?], word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, [vergewe ons mekaar onvoorwaardelik?] 6. is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. 7. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
13.
En nou bly geloof, hoop, liefde -- hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

Die eienskappe van liefde in die gemeente is om geduldig of lankmoedig te wees - m.a.w. om lank moed te kan hou; om vriendelik teenoor mekaar te wees en te bly - Filippense 4:5 sê “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.”; om mekaar te beskerm deur alles te bedek - praat met God oor jou broer of jou suster se swakhede, nie met ander mense nie; Mattheus 18:15-17 En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. In Lukas 17:3-4 sê Jesus: “ Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom. En as hy sewe maal op ’n dag teen jou sondig en sewe maal op ’n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou -- moet jy hom vergewe.” “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:32)

Mattheus 18:21-22 Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.” “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.” (Kolossense 3:13) Om alles te verdra -        2 Timotheus 2:12 sê “As ons verdra, sal ons met Hom regeer”; om te glo en die hoop te behou.

Wat is die liefde nie?

Dit handel nie onwelvoeglik nie; soek nie sy eie belang nie; is nie liggeraak nie; hou nie boek van die kwaad nie; verbly hom nie oor onreg nie; is nie afgunstig nie; is nie grootpraterig en verwaand nie. Laastens tref Paulus 'n vergelyking tussen geloof, hoop en liefde. Sy slotom: “En die grootste hiervan is die liefde.” Die liefde oorwin alles! Het jy al toegelaat dat God se liefde deur jou vloei na jou medemens? Dit mag die begin van jou en ander se oorwinning wees - die uitnemender weg!

Hoe lyk ek en jy? Is ons nog babatjies in die geloof, wat nog nie vaste kos kan eet nie? (Dit wil sê, ons kan nog nie die ware Woord van God tenvolle aanvaar nie.) Moet jy nog in die kerk en in die geloofslewe met allerande bykomstighede en tierlantyntjies vermaak word, of is die ware, onvervalste Woord van God voldoende? Stel jy God se Woord eerste in jou lewe? Moet die erediens en godsdiens "opgejazz" word om jou te vermaak? Is jy dus net tevrede met lekker, vermaaklike godsdiens? Moet die Woord van God verander word in feeverhale en mensgerigte of vormgodsdiens? Is jy nog 'n halfhartige Christen? Glo jy net wat jou pas of net sekere gedeeltes van God se Woord? Bevraagteken jy God se optrede? Glo jy eerder menslike teorieë en dinge wat in ander boeke as die Bybel geskrywe is? Onderskat jy die krag van God se Woord? Onderskat jy die krag van die Heilige Gees? Is jy nog te lief vir die wêreld se genietinge en aanloklikhede? Gaan jy maar daagliks saam met die stroom om aanvaar te word deur wêreldse mense? Keur jy verkeerde dinge goed of versuim jy om dit af te keur? Is jy net vroom voor die mense, maar gee nie om wat God van jou sien en weet nie? Wie is jou vriende? 

Romeine 8:5-8 – “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;” 

Sommige persone is erg gesteld op menseregte of vroueregte. Dit is alles mensgemaake reëls en opgestel deur humaniste wat God nie lief het nie. Wat van God se regte? Moet dit nie eerste gestel word nie? Liefde tot God is tog die heel belangrikste beginsel. Dit sal veroorsaak dat jy jou medemens ook sal liefhê. Dit help nie dat ons God ken en ‘n goeie kennis van die Bybel het nie, maar ons het God nie lief nie. Eers wanneer jy God werklik lief het sal jy Sy voorskrifte nakom. Dan sal ons die hele Bybel glo en aanvaar as God se eie Woord. Ons moet nie die krag van God se Woord onderskat nie. Ons moet ook nie die krag van die Heilige Gees onderskat nie. Ons moet nie meer praat soos 'n kind, dink soos 'n kind, redeneer soos 'n kind of optree soos 'n kind nie, maar moet die dinge van 'n kind aflê en volwasse word in die liefde en geloof. Eers wanneer ons volwasse geword het in die geloof, sal ons bereid wees om God se Woord eerste te stel en dit alleen te aanvaar en te glo net soos dit is. Dan sal ons lewe, woorde en werke getuig dat ons God se kinders is. Dan sal ons God nie daagliks verloën nie. Dan sal ons God waarlik liefhê. Daarom moet ons die uitnemender weg volg deur die liefde na te jaag! 

God beveel ons aan die begin van hoofstuk 14 om die uitnemender weg te volg deur die liefde na te jaag en te agtervolg tot dat ons dit vang. As Paulus vandag 'n brief aan my of jou sou moes skryf, waaroor sal hy God kan dank ten opsigte van ons lewens? 

Gebed: Hemelse Vader, baie dankie vir U liefde! Skenk my ook die gawe van opregte liefde. Gee asseblief dat ek van nou af die uitnemender weg mag volg. Laat U liefde van vandag af deur my lewe vloei na ander wat dit nodig het. Amen. 

Indien ons na die breër konteks kyk, word ons daarvan bewus hoe die tema van geloof, hoop en liefde deur Paulus se ander briewe loop:

 

Efesiërs 1:15 en 18
15. “Daarom -- vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges –“
18. “verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;”

Romeine 1:7-8
7. “aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
8. In die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.”
 

Galasiërs 5:5-6
5. “Want ons verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.
6. Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.” 

Kolossense 1:3-5
3. “Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid,
4. omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die heiliges,
5. vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie,” 

1 Tessalonisense 1:2-3
2. “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede
3. en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader,” 

2 Tessalonisense 1:3
3. “Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word,” 

1 Timotheus 1:1,2 en 5
1. “Paulus, 'n apostel van Jesus Christus, volgens die bevel van God, ons Verlosser, en van die Here Jesus Christus, ons Hoop,
2. aan Timotheus, my ware kind in die geloof: Genade, barmhartigheid, vrede van God onse Vader en Christus Jesus, onse Here!”
5.    “Maar die doel van die gebod is liefde uit 'n rein hart en 'n goeie gewete en 'n ongeveinsde geloof,”

Filippense 1: 17,20 en 25
17. “maar die ander uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie.”
20. “volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.”

 
25. “En dit vertrou en weet ek dat ek sal bly, ja, saam met julle almal sal bly tot julle bevordering en blydskap in die geloof,” 

Titus 1:1-3
1. Paulus, 'n dienskneg van God en 'n apostel van Jesus Christus, volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat na die godsaligheid is,
2. in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het,
3. en op die regte tyd sy woord bekend gemaak het deur die prediking wat aan my toevertrou is, ooreenkomstig die gebod van God, ons Verlosser -- aan Titus, my ware kind volgens die gemeenskaplike geloof:” (my ware kind = liefde)

Filémon 1:4-5
4. “Ek dank my God altyd wanneer ek aan jou in my gebede dink,
5. omdat ek van jou liefde en geloof hoor, wat jy met betrekking tot die Here Jesus en al die heiliges het,”

  << Terug na Artikels