|
|
Is dit Sonde? Hierdie
vraag word gereeld deur ons jongmense gevra: Is dit of dat sonde -- of dit
nou dans of dobbel of wat ook al is. Die antwoord is om elkeen van hierdie
dinge eenvoudig aan die Woord van God te toets, en dan sal ons weet. Voordat ons egter by die toetse kom, moet jy eers 'n paar belangrike vrae beantwoord: 1. Is jy al 'n ware kind van God? So nie, hoef jy nie verder te lees nie. Alles wat jy doen, ook jou "goeie dade" is voor God so vuil soos 'n vuil weggooilap (Jesaja 64:6; Gal 3:10; Deut 27:26). En die mooiste en heiligste lewe tel niks voor God nie, as ons nie eers vir Jesus Christus aanvaar het as ons enigste Verlosser en Saligmaker nie (1 Johannes 5:10-12; Joh. 14:6, 23 2. Is jy gewillig om gehoorsaam te wees? As jy nie gewillig is om deur God oortuig
te word nie, kan jy maar los om verder te lees. Maar as jy gewillig is, lees
dan biddend verder. 3. Word die spesifieke
saak in die Bybel genoem? As
die Bybel duidelik oor 'n saak praat (bv. 1 Kor. 6:9-10; Eksodus 20:1-17), is
dit nie nodig om die tien toetse te gebruik nie. Dan weet jy mos reeds of dit
reg of verkeerd is. Hoe lyk dit, is jy nog met ons? Kom ons dink aan 'n
groot lemoenkoöperasie wat lemoene na die buiteland uitvoer. Daar is 'n groot
aantal standaarde waaraan uitvoerlemoene moet voldoen, en elke lemoen word
noukeurig ondersoek. As hy in een toets kortkom, word hy onmiddellik
uitgegooi. So kom God Self ons ook tegemoet met hierdie tien toetse waaraan
elke twyfelagtige saak moet voldoen. Faal hy in een toets, hoort hy nie in
die lewe van 'n Christen nie. Gooi hom uit! TIEN TOETSE VIR TWYFELAGTIGE DINGE 1. Wil ek God daardeur verheerlik? "Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God" (1 Korinthiërs 10:31; sien ook Kolossense 3:23) 2. Is dit 'n las in my geestelike lewe? "Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding loop" (Hebreërs 12:1. Lees ook Mattheus 18:8-9) 3. Kan hierdie ding tot sonde lei? "Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg" (Mattheus 5:28. Sien ook Romeine 13:14) 4. In watter geselskap bevind ek my as ek hierdie ding doen? "Moet julle nie langer laat mislei nie:
slegte geselskap bederf goeie sedes" (1 Korintiërs 15:33. Sien ook Psalm
1:1-2). 5. Lei ek ander in die versoeking deur
hierdie ding? "Daarom, as ek deur wat ek eet, my
broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se
val veroorsaak nie" (1 Korintiërs 8:13). “Laat ons dan mekaar nie meer
oordeel nie, maar besluit dit liewer, om nie die broeder 'n hindernis
of struikelblok in die weg te lê nie” (Rom. 14:13). “Dit is goed om geen vleis te
eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot
neem of struikel, of waarin hy swak is nie” (Rom 14:21). 6. Help dit om ander vir Christus te win? "Vir die Jode het ek
soos 'n Jood geword om Jode te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval
sommige te red" (1 Korintiërs 9:20-25). 7. Is ek absoluut oortuig dit is nie sonde
nie? Kan ek voor God bely dat dit nie sonde is
nie? "Enigiets wat 'n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is
sonde" (Romeine 14:23). 8. Watter vrugte dra hierdie boom? "As julle sê 'n boom is goed, moet
julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê
sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken" (Mattheus
12:33). 9. Wat beveel God vir ons daaglikse lewe? "Maar soos Hy wat julle geroep het,
heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe
is: "Wees heilig, want Ek is heilig" (1 Petrus 1:15-16)." 10. Help ek my swakkere broeder (of suster)
daardeur? "Op ons wat sterk is in die geloof, rus
die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons
moenie aan onsself dink nie" (Romeine 15:1)." Wat dans betref Alle
onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat
(b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die
huwelik (d). (a) Lev
18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess 4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7. Omdat
beide, ons liggaam en siel, 'n tempel van die Heilige Gees is,
wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied
God alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en
alles wat 'n mens daartoe kan verlei (c). (a) Ef
5:3-7; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27, 28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33. “Laat
die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede
gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die
sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot
beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede
as werktuie van geregtigheid in die diens van God” (Romeine
6:12-13).
1 Petr. 4:1-7 - 1. Omdat Christus dan vir ons na die
vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na
die vlees gely het, opgehou het met die sonde, 2. om die orige tyd in die
vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar
volgens die wil van God. 3. Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd
die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid,
dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye. 4. Daarom
vind hulle dit vreemd as julle nie saamloop in dieselfde uitgieting van
losbandigheid nie, en hulle laster. 5. Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat
gereed staan om die lewende en die dode te oordeel. 6. Want daarom is ook aan
die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die
mens in die vlees, maar lewe na God in die gees. 7. En die einde van alle
dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid. Jak. 4:4 - Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat
die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n
vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God. Rom. 12:1-2 - Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge
van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God
welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan
hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing
van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en
welgevallige en volmaakte wil van God is. Rom. 13:12-14 - Die nag het ver gevorder en dit is
amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die
wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel soos in die
dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid,
nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg
vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie. Kol. 3:1-2 - As julle dan saam met Christus opgewek is, soek
die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink
die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Kol. 3:5-8 - Maak dood dan julle lede wat op
die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte
begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God
oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër
gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit
alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit
julle mond. Titus 2:11-13 - Want die reddende genade van God het aan alle
mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse
begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in
die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die
verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser,
Jesus Christus, Jakobus 1:14-15 - Maar elkeen
word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.
Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die
sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. 1 Pet 1:14-16 - Soos
gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede
wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is,
moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is:
Wees heilig, want Ek is heilig. Efesiërs. 4:20-24 - Maar julle
het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en
in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige
lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van
die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en
julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware
geregtigheid en heiligheid. Lees ook: Kol. 3:10-17 |